Hervormde Kerk Rustenburg Suid

Hervormde Kerk Rustenburg Suid

Indrukwekkende gebou met besonderse steenwerk, houtwerk en vensters.

Elke detail fyn beplan en ryk aan simboliek.

Nederduits Hervormde Kerk van Afrika Gemeente Rustenburg Suid

Die Nederduits Hervormde Kerk van Afrika begin reeds in 1824.

Die Hervormde Kerk Rustenburg Suid stig 25 Mei 1957 af van die Rustenburg Moedergemeemte.

Nadat grond verkry is word daar begin met planne vir ñ eie kerkgebou.

KERKGEBOU

1963 word die planne van die gebou deur argitek Hubert Cuff goedgekeur.

Argitekte Neethling en Bosman argitekte vir gebou.

SF Malan Bouaannemer (Sarel Malan) verantwoordelik vir bouwerk.

Die argitek Cuff het elke detail noukeurig ontwerp, fyn beplan, geskets en geteken. Alles dra by en vorm ñ eenheid, van die dakligte tot die doopvont en kateder.

Die hele gebou is in katedraalstyl in kruisvorm gebou. Dit was ñ moeilike opdrag om ñ eenvoudige gebou, maar tog indrukwekkend en ekonomies te bou. Ten spyte van baie kopkrap moes deeglik beplan en hard gewerk word aangesien die boukoste nogtans die destydse aanvaarde boukostes oorskry het.

HOEKSTEEN

27 Februarie 1965 is die hoeksteen gelê. Die bewoording eenvoudig met net die kerk se naam en datum en die vers Fil 2 v 11: Jesus Christus is die Heer. Geen name op die hoeksteen nie.

Ds Mans het die hoeksteen gelê.

INWYDING

Sondag 7 November 1965 is die kerkgebou ingewy. 1386 mense het die geleentheid bygewoon.

Muurteëls met ñ lynskets van die kerk daarop is teen R2 stuk verkoop om te help om die kerkskuld te delg, leningsgeld om bouwerk te voltooi.

STEENWERK EN HOUTWERK

Daar is van groot hoeveelhede hout gebruik gemaak om gebou op te rig. Reuse houtkolomme, houtbalke, eintlik hele raamwerk van hout met net genoeg steenwerk om balke te stut en balanseer.

Meeste hout afkomstig uit for Louis Trichardt staatsbos.

Steenwerk binne is eintlik net by die galery, moederskamer en agter die preekstoel gebruik.

Die steenwerk is besonders. Dit was baie moeilik om die perfeksionistiese argitek tevrede te stel want sy eenvoudige opdrag was net dat niks simmetries moes wees nie. Die stene is ekstra lank gebak sodat die stene inmekaar kon smelt om unieke knoetse te vorm. Die steenwerk was soos om legkaart te bou.

VENSTERS

Die vensters het in geheel simboliese betekenis.

Die noordelike pers vensters (purper) is in die vorm van ñ kruis, die pype of driehoekvorm wys ondertoe om Christus se dood te simboliseer.

Die suidelike blou vensters vorm ñ ster, met driehoeke wat opwaarts wys om geboorte en lewe van Christus te simboliseer.

Die westelike amber vensters straal pyle vanaf die orrel uit wat lof en prys simboliseer.

Die oorspronklike glasvensters het ñ plastieklaag oor en elke venster is met die hand gekleur deur loodglaskunstenaar Leo Theron.

Van die dele moes al vervang word en dit is gedoen deur gekleurde glas in te voer vanaf Amerika, teen groot kostes.

Ligter vensters is tussen donkerpers ingesit en blou glasvensters ter wille van afwisseling.

LEIKLIP

Die dak is bedek met leiklip, oorspronklik ingevoer vanaf Duitsland, maar moes in 2003 vervang word.

Die vloere is van leiklip uit die Wes-Transvaal.

DOOPVONT

Die doopvont se deksel het ñ geelkoper duif op wat die Heilige Gees simboliseer

Ontwerp en gemaak deur ñ juwelier in Pretoria.

INGANGSPORTAAL

Die regterkantste ingangsportaal het ñ geel ster en ñ duif op die vloer van mosaïekwerk om aan te sluit by blou stervensters en duif op die doopvont.

Die linkerkantste inhangsportaal het in mosaïekwerk die kerkwapen van Nederduits Hervormde Kerk van Afrika.

ORREL

Tans een van die grootste orrels in die Hervormde Kerk.

Oorspronklike Brul-orrel met reusagtige houtpype wat later verleng is en kleiner “swell”-pype.

Die pyporrel van Zeerust gemeente is ook aangekoop en ingebou in bestaande orrel en selfs ñ klokkespel is geïnkorporeer.

KANSEL EN HOUTKRUIS

Die kansel is ook in die vorm van ñ kruis met fie woorde “Jesus Alleen” daarop aangebring.

Die Houtkruis agter die kansel aangebring is die eerste geval van ñ kruis wat in ñ susterskerk aangebring is en het vir ñ groot dilemma gesorg.

Die kruis was deel van die oorspronklike plan, maar het vrae en ontevredenheid laat ontstaan.

Kruise, kerse, beelde en ornamente binne die kerk is beskou as Rooms en alles Rooms is met agterdog bejeen.

Die voorsitter van die boukomitee gee kennis aan argitek Bosman om die kruis binne en buite die kerk weg te laat.

Ongelukkig bereik hierdie boodskap nie die argitek van ontwerp van gebou, Hubert Cuff, nie.

Cuff laat maak die kruis in Pretoria-Noord en vervoer in die middernagtelike ure die kruis bo-op sy stasiewa se dak Rustenburg toe. Saam met hom is die loodglaskunstenaar Leo Theron wat moes uitkyk vir ander verkeer aangesien die kruis baie groter as die motor was en hulle moes uitdraai vir ander voertuie.

By die kerk moes hulle een van die vensterrame losmaak om die kruis binne te kry. Steiers is opgestel en die kruis met katrolle opgehys tot op sy plek hoog teen die muur.

Die vensters is teruggesit en met sonsopkoms was die kruisop sy plek, hoog teen die muur, in die kerk.

Hieroor was ñ sterk gevoel van teenkanting by party lidmate, sommige het hulself weerhou van Nagmaal, ander het Kerkraad bedank, en Kerkraad het in skrywe aangevra of dit reg of verkeerd is. Wat die antwoord was, is nie duidelik nie, maar die feit is…Die kruis is steeds teen die muur.

TORING

Die hoë toring reik na die Hemel en is losstaande van die Kerk. Dapper bouer was Peet Malan.

BYNES

Interessant is dat daar net na die gebou voltooi was, skielik elke Sondag bye in die konsistorie was. Die bynes is ontdek op die plafon van die Kerkgebou, vernietig en verwyder.

In die bynes was meterlange heuningkoeke en 5 emmers van 25 liter heuningkoeke is uitgehaal. Die heuning het hulle gebottel en tydens die basaar verkoop om ook te help om gebouskuld te betaal.

LUGFOTO

Die onlangse lugfoto toon die kruisvorm duidelik.

Die verandering van omgewing teen ñ vorige foto is ook duidelik sigbaar.

Die Hervormde Kerk Rustenburg Suid se gebou nou ñ groen oase in ñ toegeboude besige area.

Die verroue is dat hierdie kerk vir mense ñ oase sal wees in ñ besige wêreld vol geraas.

Bron: Dankie Ds Stephan Botha vir al hierdie kosbare inligting.

Foto’s: Gys Ströh snr ( Gysbertus Johannes Ströh ) April 2024.

Louna Bisschoff Coetzee

Maak 'n opvolg-bydrae