Uilhuis / Nieu-Bethesda / Karoo / Oos-Kaap

Uilhuis
Nieu-Bethesda. Karoo.  Oos-Kaap
Uilhuis met meer as 300 beeldjies van uile, kamele, piramiedes, sfinkse, lammertjies, poue, kameelperde, meerminne, mense, godsdienstige figure ens.

Bron: Lekkaslaap:

Die wêreldbekende Uilhuis, waar Helen Martins grootgeword en gesterf het, lyk soos enige ander tipiese Karoohuisie.

Met sy growwe stene en wit mure lyk dié langwerpige platdakhuisie, met die eerste oogopslag, doodgewoon.

Dít is nou tot jy die voëlhok vol steenuile raaksien wat die stoepie vol staan.

Die storie van die Uilhuis is al vertel, oorvertel, uitgerafel en verdraai, te veel kere om te noem.

Al die weergawes begin egter by die dood van Helen Martins se ouers.

Na haar pa se dood in 1945 het sy begin om haar ouerhuis drasties te verander.

Sy het groter vensters ingesit en glasskerfies gebruik om nog meer lig en kleur aan die huis te verleen. Martins het glasbottels versamel en dit met koffiemeule fyngemaal. Nadat 6 of 7 koffiemeule die gees gegee het, het sy maar ’n stamper en vysel gebruik. Sy het die skerwe teen die mure vasgeplak met ’n mengsel van verf en vernis totdat die kamers in die Uilhuis in verskillende skakerings begin glinster het.

Stadig maar seker het die hele huis ’n metamorfose ondergaan.

Sy het son-motiewe begin gebruik en later het haar kuns oorgespoel tot in die stowwerige erf waar die een sementbeeldhouwerk na die ander verrys het.

Vandag is dit propvol menige interessante figure. Tussen al die uile skuil daar ook 14 meerminne, 4 sfinkse, 12 piramiedes, 49 kamele, 18 lammertjies, 7 kameelperde en legio menslike en godsdienstige figure.
Helen Martins, oorlede in 1976, se buitestaander-kuns is so ongewoon dat mense vandag nog van heinde en verre na Nieu-Bethesda kom om dit te sien.

Die eienaardige manier waarop sy selfmoord gepleeg het en die redes vir dié drastiese stap, dra by tot die misterie van die Uilhuis.

Helen Martins het haar eie lewe geneem.

Daar is verskillende stories wat draai rondom die rede hiervoor, en daar word selfs beweer dat sy bytsoda, gemeng met verpoeierde glas, gedrink het. Een makabere weergawe beweer dat die jarelange blootstelling aan verpoeierde glas haar oë begin aantas het. Uit ’n maniese vrees vir blind word het Martins toe eerder haar eie lewe geneem.
Sy het, kort voor haar dood in ‘n brief aan haar vriendin Jill Wenman gesê dat die léwe die probleem is, en nie die dood nie. Sy was bang om “lewend dood te wees”. Met ander woorde, blind en nie in staat om verder kuns te skep nie. Sy het fyngemaalde glas met bytsoda gemeng en op dié manier probeer om ’n kunswerk van haar dood te maak. Met die poeierglas as bestandeel het sy lig probeer werp op die donkerte wat die dood oor haar kreatiwiteit sou gooi.

Haar as is in die Camel Yard, haar erf vol beeldhouwerke, gestrooi.

Tussen haar interpretasies van godsdienstige figure, kuns, uile en die skrif teen die heining wat sê “This is my world”, het sy uiteindelik rus gevind.

Jonker Fourie Mei 29, 2012. RaakReis :

Nieu-Bethesda lê so 50km noord van Graaff-Reinet en is in 1838 deur Charles Murray, ‘n Nederduitse Gereformeerde dominee van Graaff-Reinet, gestig. Met die stigting van die dorp het hy gesê, “En laten wy deze plaats nu Bethesda noemen” vanwee die vrugbaarheid van die plek en die aanwesigheid van voldoende water.

Nieu-Bethesda was die tuiste van Helen Martins (1897-1976) wat haar ouers se huis op die dorp geêrf het na hulle dood.

Miss Helen het verveeld geraak met haar lewe en omgewing en begin om die huis en tuin te versier met sement, glas en draad.

Sy het later standbeelde in die tuin begin bou en is geinspireer deur tekverse uit die bybel, die poësie van Omar Khayyam en verskeie kunswerke deur William Blake.

Koos Malgas het in 1964 vir haar begin werk en haar gehelp om standbeelde van uile, kamele en mense op te tower.

Die meeste van die mense in die tuin kyk en wys oos omdat Miss Helen so ‘n fasinasie met die Ooste gehad het.

Al die jare se werk in en om die huis met gebreekte glas het Helen Martin se oê aangetas en sy het begin blind word. As gevolg van dit het sy in 1976 op die ouderdom van 78 selfmoord gepleeg deur bytsoda (caustic soda) te drink.

Haar wens was dat die huis behoue sou bly as ‘n museum en dit is hoe dit vandag nog is.




Maak 'n opvolg-bydrae