Naval Hill / Bloemfontein / Wit Perd / Sterrewag

Naval Hill in die middel van die Vrystaat, 550 km van die naaste see !

deur Hendrik Strydom

Hierdie naam NAVAL HILL klink totaal onvanpas in die Vrystaat as mens in ag neem dat dit in die middel van Suid-Afrika geleë is, soos die kraai vlieg sowat 550 km vanaf die naaste see ! Naval beteken immers skeeps-, mariene, en vloot.

Watter vreemde omstandighede het aanleiding gegee tot hierdie benaming ?

Naval Hill is ’n groot platkop heuwel direk noord-oos van die middestad van Bloemfontein. Dit is aan alle kante omring deur woongebiede. Gedurende die 19de eeu was die heuwel onder verskillende name bekend, Bloemfontein Heuwel, Bloemfontein Berg, Tafelkop. Vroeër is moordenaars teen die heuwel in Hangmanskloof in die openbaar opgehang.

Tydens die Anglo-Boereoorlog is Bloemfontein tot ‘n oop stad verklaar. Op 15 Maart 1900 het Lord Roberts, die bevelvoerder van die Britse mag, die stad binne gemarsjeer en hul vooraad- en kommunikasiebasis daar gevestig. ‘n Vlootkontingent wat Roberts in sy opmars vergesel het, die Wiltshire Brigade, met swaar vlootartillerie afkomstig van oorlogskepe, is daar op die heuwel met sy uitsig oor die stad, gestasioneer. Daar was onder andere vier twaalfponders. Die teenwoordigheid van ‘n vlootkontingent op die heuwel het aanleiding gegee tot die huidige naam.

In ‘n oomblik van heimwee het die lede van die brigade met witgekalkte klippe ‘n groot wit perd teen die oostelike hang van die heuwel uitgelê as herinnering aan die Cherhill-perd op die heuwels naby Caine in hul tuis graafskap Wiltshire, en dit beoog as landmerk vir perderuiters wat die stad vanuit die vlaktes nader. Die perd is sigbaar vanaf Andries Pretoriusstraat.

Vandag beslaan die Franklik Natuurreservaat van 198 hektaar die grootste deel van Naval Hill. Die reservaat is in 1928 gestig en vernoem na JS Franklin, destydse burgemeester van Bloemfontein. Ook op die kruin van Naval Hill is die oorspronklike gebou van die Lamont-Hussey-sterrewag wat in 1927 deur die Universiteit van Michigan gebou is om tweeling-sterre (binêre sterre) waar te neem. Met ‘n 68,5 sentimeter teleskoop is meer as 7000 voorbeelde van sulke sterre is ontdek. Waarnemings is in 1972 gestaak en die koepeldakgebou is omskep in ‘n teater, kultuursentrum en planetarium.

BRONNELYS:

AA: Padatlas en Toergids vir Suider-Afrika; Albertyn: CF: Ensiklopedie van die Wêreld; Bateman, P: Generals of the Anglo-Boer War; Bulpin, TV: Illustrated Guide to Southern Africa; Erasmus, BPE: Op Pad in Suid-Afrika; Lanbou Weekblad, 20 Mei 2021, K Spies; Leigh, M: Toergids vir Suid-Afrika; Moolman, N: Dankie Generaal; Pakenham, T: Die Boere-oorlog; Potgieter, DJ: SESA; Steyn, A: Off the Beaten Track; Xplore, Amptelike Satoer gids vir Suid-Afrika.

Maak 'n opvolg-bydrae