Johannes Petrus Coetzee / Fusileer / ABO / Cradock / NG Kerk Cradock / Wilhelm Stephanus Kruger / Francois du Randt

Johannes Petrus Coetzee

1879 – 1901

Cradock

Anglo-Boereoorlog

13 Julie 1901 gehang deur Britse Soldate

Wilhelm Stephanus Kruger (34 jr) en Francois du Randt (26 jr) ook gefusileer en name op gedenksteen

JOHANNES PETRUS COETZEE

Johannes Petrus Coetzee is gebore 26 Maart 1879 distrik Cradock.

Gedoop 25 Mei 1879 NG Moedergemeente Cradock

Sy Vader: Johannes Petrus Coetzee

Sy Moeder: Catharina Margaritha Lombard

CRADOCK Oos-Kaap

Alhoewel daar geen gevegte op Cradock plaasgevind het tydens die ABO nie, lê die oorlog se spore diep op Cradock.

Britse soldate was deurentyd teenwoordig op Cradock en Cradock het gedien as ñ groot perdedepot vir die Britse Mag.

Die Britte het die NG Kerkgebou beset en hulle basis met sandsakke beskerm.

Tussen die pilare op die voorstoep was sandsakke gepak.

Vanuit die kerktoring het die Britse soldate die inwoners dopgehou en heliograaf-boodskappe ontvang en gestuur.

Paul Kruger was ook in hierdie gemeente gedoop in 1826.

Burgers wat aansluit by die Boeremagte word as verraaiers beskou.

ABO

As jong penkop sluit Johannes Petrus Coetzee vanaf Paardekraal distrik Cradock by die Boereoorlog aan.

24 Junie 1901 word hy gevange geneem op Wildefontein saam met 2 ander Kaapse rebelle, Claassen en Marais.

Die verhoor van Johannes Petrus Coetzee vind op Dordrecht plaas.

Die klagtes teen hom was eerstens hoogverraad omdat hy as Kaapse Burger by die Republikeinse magte aangesluit het en tweedens poging tot moord teen die gewonde Britse soldaat Gibbens.

Johannes erken dat hy by die Boerekommando’s aangesluit het, maar ontken die aanklag van poging tot moord.

Die militêre hof bevind hom tydens ñ onbillike verhoor skuldig op altwee aanklagte.

DIE DOODSVONNIS

Die militêre hof vonnis Johannes Petrus Coetzee tot die doodstraf.

Eers die dag voor vonnisoplegging word die verdwaasde Johannes in kennis gestel van die vonnis.

Op die markplein van Cradock word die doodsvonnis uitgespreek en die amptelike kennisgewing verplig alle manlike inwoners om teenwoordig te wees.

Die jong Coetzee word bygestaan deur die leraar ds. Reynecke.

Vir die predikant sê die jongman Johannes Coetzee dat sy gewete skoon is.

Hy het niemand probeer vermoor nie.

Hy het by die kommando aangesluit om sy volk te help en as hy hiervoor moet sterf, is hy gereed.

Om 9h00 die oggend van 13 Julie 1901 ( sommige bronne 15 Julie) word die jong 21 jarige Johannes Petrus Coetzee (sommige bronne 16 jaar) gehang in die agterplaas van die Cradock tronk.

Teenwoordig is ñ aantal gewapende Britse soldate en sowat 30 gedwonge toeskouers, o.a. sy pa en plaaslike leraar ds JC Reynecke.

Sy laaste woorde prewel hy:

“My Jesus is nou aan my sy”.

Johannes Petrus Coetzee se vader was teenwoordig toe hy gehang is.

Die Britte weier egter dat sy vader self sy liggaam verwyder.

Hulle laai sy liggaam op ñ skotskar en laat 4 bandiete dit sleep tot teen die Visrivier waar hulle hom aan die oewer begrawe.

Sy vader en Ds Reyneke is toegelaat om hulle te volg.

Die gemeente is ook toegelaat om ñ roudiens te hou.

ñ Swart vlag het bokant die tronk gewapper tydens en na die teregstelling.

NAGEVOLGE

Britse koerante het hierdie verhoor en die teregstelling skerp veroordeel en as onnodig bestempel.

Van die koerante het gewaarsku dat hierdie gebeure nog lank in die mense se harte sal bly en dat dit die volk nog hegter sal laat saamstaan.

September 1901 is ds Reyneke ook in hegtenis geneem en moes 18 maande in die tronk deurbring en mag vir 10 maande nie as predikant optree nie.

Van sy gemeentelede is as “undesirables” gebrandmerk en na ñ kamp op Port Alfred gestuur.

Nog 2 ander Kaapse rebelle is ook hier gefusileer. 1 Oktober 1901 sterf Wilhelm Stephanus Kruger (34 jr) voor ñ Britse vuurpeloton en 5 April 1902 Francois du Randt (26 jr).

Hulle is ook op die oewer van die Groot Visrivier begrawe.

ñ Gedenksteen is vir hulle in die plaaslike begraafplaas opgerig, maar in 1975 is hierdie gedenksteen verskuif na die tuin van die NG Moedergemeente Cradock toe.

ñ Vrystaatse burger Dirk S Breedt was ook in die Cradock tronk aangehou en ook gefusileer.

HERBEGRAWE

14 Januarie 1903 doen Johannes Petrus Coetzee se vader aansoek om sy seun se liggaam te herbegrawe.

Die inligting op die sterftekennis/ sterfteaangif as volg:

Johannes Petrus Coetzee

Sterf 13 Julie 1901

Plek Cradock

Woonplek Paardekraal Distrik Cradock Afdeling Blaau Krantz

Beroep Veeboer

Beoogde begraafplek Paardekraal Cradock

Oorsaak van dood Gehang as Rebel deur die militêre owerheid

Dokter teenwoordig Dr JC de Wet

Geteken deur JP Coetzee

Vader teenwoordig by eksekusie

Woonplek van Vader Pannahoek Cradock Distrik

Registrasie 13 Februarie 1903 te Cradock

Ouderdom ten tye van dood 21 jaar.

Volgens party bronne kon sy familie nie sy graf later opspoor nie.

Bronne : Wikipedia, Wikitree, Afrikanergeskiedenis FAK Facebook

Samesteller: Kobie Ströh

Foto’s: Geleen vanaf Interne

Maak 'n opvolg-bydrae