METODISTE KERK POTCHEFSTROOM
Die eerste Christenboodskap is reeds in 1822 vir die eerste na Transvaal gebring deur 2 Metodiste Sendelinge nl Eerwaarde Hodgson en Samuel Broadbent. Hulle 2 het die eerste Metodiste sendingkerkie by Makwassie opgerig.
1838 het Andries Hendrik Potgieter en sy trekgeselskap hulle in die Potchefstroom-distrik gevestig. ñ Dorp het hier ontstaan. 22 Desember 1838 proklameer Potgieter Potchefstroom.
Potchefstroom het vinnig as ñ handelsentrum ontwikkel met ñ groot markplein.
1865 vra die Engelse inwoners van Potchefstroom vir Ds Andrew Murray van die Nederduits Geteformeerde Kerk om vir hulle ñ diens te kom lei. Die diens word gehou in die huis van Mnr en Mev Goetz. Dit was die begin van die Wesleyaanse Metodiste Gemeente op Potchefstroom.
1878 was die eerste ou Metodiste kerkie in gebruik geneem.
Die kerk se misvloere het groot probleme veroorsaak.
Die vloere is gereeld gesmeer met ‘n mengsel van beesmis, osbloed en modder.
Tydens die reënseisoen het die stoele stadig tydens die dienste in die sagte modder ingesak. Dan moes die diens onderbreek word om eers gou die stoele met groot gesukkel uit die modder te trek.
Hierdie kerk het groot sensasie veroorsaak toe hulle ‘n houtvloer ingesit het. Mense het van heinde en verre gekom om na hierdie houtvloere te kom kyk. Vir meeste was dit ongehoord want hulle het geglo hout is te waardevol om op te loop. Hout word net gebruik vir tafels, stoele, kiste en waens.
Einde 1904 word die nuwe Metodiste Kerk ingewy.
Die hoeksteen word 8 Oktober 1904 deur die 2de Graaf van Selborne (William Palmer 1859-1942) gelê. Lord Selborne, Graaf van Selborne het Lord Milner Britse Hoëkommissaris van SA opgevolg. Hy dien as Goewerneur van Transvaal en Oranje Vrystaat. Selborne was ñ gewilde en gerespekteerde persoon en het hom veral beywer vir ñ Unie van Suid-Afrika. Kort na die totstandkoming van die Unie van SA het hy teruggekeer na Engeland.
Die kerkgebou is gebou met sandsteen vanaf Parys. Dieselfde sandsteen is gebruik vir die Vrouemonument in Bloemfontein.
ñ Besonderse kenmerk is die ventilasie deur die mure. ñ Besonderse tegniek.
Binne die kerk is feitlik alle materiaal ingevoer, meestal uit Engeland.
Die pragtige houtwerk is English Oak, Engelse eikehout.
Die besonderse loodglasvensters uit Birningham, sommiges ook spesiaal toegewy aan mense wat groot rol in die kerk gespeel het.
Orals teen die mure pryk bronsplate, toegewy aan besonderse mense wat gedien en gelei het in díe gemeente, dapper en lojale slagoffers van die Eerste Wêreldoorlog en die 1914 Rebellie.
Die Potchefstroom Metodiste Kerk is deur die jare deur 52 predikante bedien.
Die kapel en saal is later bygevoeg.
Foto’s Febr 2026 Dankie Gys Ströh snr en Nicky van Chilli PicNic
Bronne: Potchefstroom Kerketoer deur Potch Kultuur .
Stories van Potchefstroom deur Dr Lennie Gouws.








POTCHEFSTROOM
LUTHERSE KERK GEBOUE KOMPLEKS
Die geboue kompleks beskik oor ñ historiese kerk, ñ pastorie, ñ baie ou skoolgeboutjie en ñ smidswerkswinkel of “karhuis”.
1872 Berlynse Sendinggenootskap
Maart 1872 stuur die Berlynse Sendinggenootskap in Pretoria Pastoor Moschütz na Potchefstroom. Hulle het berig ontvang dat daar ñ gemeente van sowat 500 lidmate is en dat hulle aangebied het om self hulle eie kerk te bou en ook ñ pastorie. Later blyk dit ñ erg oordrewe boodskap was.
Pastoor Moschütz vind dat die gemeente uit Basothos, Matabeles, Hottentotte, Griekwas en “Basters” bestaan. Meeste van hulle het ñ bitter klein inkomste en werk baie lang ure.
Die gemeente is baie arm en baie min tyd. Arbeid en boumateriaal is duur en sekere boumateriaal soos houtbalke moet van elders af verkry word.
Pastoor Moschütz spring maar self in om sy eie pastorie en kerk te bou. Ten spyte van swak gesondheid doen hy self die bouwerk, hy kap self klippe en maak stene.
Ondertussen hou hy dienste in die ou Landdroskantoor.
Hemelvaart 1875 lê hy die hoeksteen van die kerkie. Die datum op die hoeksteen is egter 31 Maart 1873.
Ten spyte van teenkanting van sommige van die blanke inwoners in Potchefstroom wat hierdie bouwerk probeer stuit, verwerf Pastoor Moschütz die gemeenskap se vertroue en ñ hele paar blankes sluit by die kerk aan. Potchefstroom het ñ groot aantal Duitse inwoners gehad.
5 Oktober 1875 sterf Pastoor Moschütz, dieselfde dag wat Pastoor Köhler in Potchefstroom arriveer.
1877: Die kerk word voltooi onder Pastoor Köhler se leiding. Die kerkie is 20×10 meter groot en in die Gotiese Styl gebou. Aanvanklik ñ misvloer en ñ grasdak gehad.
1883 word die Evangelies-Lutherse Gemeente Potchefstroom gestig onder Pastoor Windisch se leiding.
Tot 1962 deel die Sendinggemeente en die Lutherse gemeente die kerkgebou met 2 eredienste.
1962 skuif die Sendinggemeente na hulle eie gebou in Ikageng.
Die Lutherse gemeente besluit om hulle eie kerk te bou.
Die ou kerkie met die geboue rondom staan groot gevaar om gesloop te word.
1986 stig die Duitse Kultuurvereniging en Stigting Simon van der Stel die Potchefstroomse Berlynse Sendingkerk-kompleks.
Planne met restourasie word dadelik beraam en aangepak.
Die skooltjie was eerste gerestoureer. Die oudste skool in Potchefstroom, gebruik deur die Srndinggemeente. Hierdie was waarskynlik die heel eerste pastorie.
Daarna volg die res van die geboue .
Die smidswerkswinkel of “karhuis” is ook al in die 1920’s gebou.
Twee kamers wat in 1926 aan die pastorie aangebou was, moes afgebreek word aangesien dit op ñ aangrensende erf grstaan het. Die pastorie het ook ñ grasdak gehad wat later met ñ sinkdak vervang is. Tydens die restourasie is gepoog om so na as moontlik aan die oorspronklike te behou. Die sinkdak is behou, die dik mure en lae deure tipies van daardie era. Die kaggel en ingeboude uitstalkassies in die mure ook tiperend.
Wat die kerkie self betref word besluit om die kerk te restoureer soos dit in 1930 was.
Die galery word afgebreek want oorspronklike kerk het net ñ grondvloer gehad. Die oorspronklike venster word teruggeplaas in die suidgewel.
Die kerk se dak bly ñ sinkdak aangesien daar gevrees word dat die mure en struktuur nie meer sterk genoeg is vir die gewig van ñ grasdak nie.
Die houtvensters word ook pragtig gerestoureer.
1990 verkry hierdie Gebouekompleks voorlopige status as Nasionale Gedendwaardigheid.
1992 word die 3 oorspronklike venstertjies toegebou deur ñ muur agter die altaar ontdek.
Dit is 3 Gotiese boogvenstertjies, ñ simbool van die Drie-eenheid. Hulle word in ere herstel.
Die binneruim van die kerk word ryklik versier deur die kunstige Pastoor Windisch met muurskilderye en ñ Christusbeeld wat hy uit Mopaniehout gekerf het.
Daar was oorspronklik ñ traporrel wat later deur ñ pyporrel vervang was. Ongelukkig moes die orrel weer verwyder word want die struktuur was nie sterk genoeg om die pype te dra nie.
Selfs die kloktoring wat al in die 1930’s gesloop is, word weer gebou. Sonder ñ klok.
Langs die kerk ñ klip met inskripsies opgerig tydens die eeufees. Skrif moeilik leesbaar.
ñ Netjiese bakoond getuig ook van vervloë dae. Die reuk van varsgebakte brood skielik in almal se geheue.
Tans is die gebou steeds in ñ goeie toestand en word gebruik deur die gemeente City on a Hill.
Foto’s Febr 2026 Dankie Gys Ströh snr ( Gysbertus Johannes Ströh ) en Nicky Jansen van Vuuren van Chilli PicNic
Bronne: Potchefstroom Kerketoer deur Potch Kultuur en Stories van Potchefstroom deur Dr Lennie Gouws.












POTCHEFSTROOM
NG KERK POTCHEFSTROOM
Die oudste NG Kerkgebou in Potchefstroom op Erf no 1 uitgelê tydens die ZAR tydperk.
Ds Daniël Lindley, Anerikaanse sendeling was veral oor die herderlose Voortrekkerpioniers bekommerd.
1841 stel die Natalse Volksraad Ds Lindley aan as leraar. Hy was ñ geordende predikant van die Presbiteriaanse Kerk wat baie met die Kaapse Kerk ooreengestem het.
Ds Lindley besoek al die wydverspreide lidmate.
Maart 1842 doop hy lidmate aan die Mooirivier. Dit kan beskou word as die stigting van die eerste gemeente.
1844 en 1846 besoek hy weer hierdie Potchefstroom gemeente.
November 1841 het Andries Hendrik Potgieter reeds begin om fondse in te samel vir ñ kerkgeboutjie.
1848 word ds Andrew Murray jnr aangestel as leraar van Bloemfontein en konsulent van Potchefstroom. Hy besoek jaarliks die gemeente in Potchefstroom en van sy dienste word in die klein kruiskerkie gehou.
1853 word Ds Dirk van der Hof uit Nederland aangestel as predikant, maar nog voor hy bevestig kon word, vind die skeiding met die Kaapse Kerk plaas en Nerderduits Hervormde Kerk word gestig. Baie lidmate het egter agtergebly.
1889 verenig die 2 gemeentes weer, maar Hervormde Kerk stig weer af.
Die Nederduits Gereformeerde Kerk onder leiding van Ds Fick volhard tot die nuwe gebou in 1894 ingewy word.
Hoeksteen word gelê deur Paul Kruger, president van die ZAR
Hoekte der Ned Herv of Ger Kerk Potchefstroom.
Gelegd door zyn Hoog Ed
Den Staats President
Feb 13 1894
Die gebou is ontwerp in Koloniaal-Gotiese styl deur die Duitse boumeester Richard Wocke.
Dit is die oudste kerk in die Ou Transvaal
Andries Hendrik Potgieter se kinders is in hierdie kerk gedoop.
REBELLEKERK
1914 Rebellietydperk, ontstaan die twis tussen gemeentelede. NG Mooirivier stig af en die rebelle bly agter. Kerk kry naam as Rebellesie-gebou.
Tydens WWII word dit die Worst Kerk, die Natte Kerk, meeste lidmate steun die Nasionale Party.
BRAND
4 Julie 2007 breek ñ verwoestende brand in die kerkgebou uit.
Al die hout tot as verbrand.
Daar word ñ besluit geneem om hierdie gebouvso na as moontlik aan die oorspronklike te herstel en te bewaar vir die nageslag al sal dit groot finansiële kostes meebring.
Daar word vasgrstel dat die fondasie en struktuur glad nie beskadig is nie. Die gebakte bakstene het verhard in die brand en mure versterk.
Die puin word fyngekam en alle skarniere, spykers, deurknoppe en yster sorgvuldig benut.
Foto’s, dokumente en notules word in argiewe opgespoor en as verwysings gebruik.
Oorblyfsels van die hout word weggestuur om presies te bepaal watter houtsoorte gebruik was.
Die ou oorspronklike preekstoel word in die Oos-Kaap opgespoor.
Die unieke ventilasie deur die mure word herstel en laat die gebou goed geventileer.
Slegs een kandelaar het verlore geraak, dit is gesteel na die brand en is steeds nie teruggevind nie. Die vermoede is sterk dat dit in ñ woonhuis pronk.
7 November 2010 word dir gerestoureerde en herstelde kerkgebou weer in gebruik geneem.
Foto’s Febr 2026 Dankie Gys Ströh snr en Nicky van Chilli Picnic
Bronne: Potchefstroom Kerketoer deur Potch Kultuur en Stories van Potchefstroom deur Dr Lennie Gouws.















THE PARISH OF ST MARY’S
St Mary’s Kerk
Anglikaanse Kerk
Potchefstroom
Kort na die Voortrekker-pioniers hulle in Potchefstroom gevestig het, het die handelaars gevolg, sommige van hulle Engelssprekend.
1859 vestig die Stamps familie en die Ricketts hulle hier.
1862 besoek die Biskop van die Vrystaatse Anglikaanse Kerk die Mooirivier-area en hou die eerste Engelse diens hier.
1866 arriveer die eerste diaken, Richardson, en bedien ñ gemeente van 60 lidmate. Die eerste dienste was gehou in ñ ou ongebruikte stoor.
25 Maart 1867 lê Pres Pretorius die hoeksteen van die eerste kerkie. Die Kerk het ñ hoë grasdak gehad, boogvensters en ñ misvloer. Plek vir 80 lidmate.
Die vloer was ñ mengsel van koeimis en osbloed wat gereeld gesmeer moes word.
Gedurende die reënseisoen het hierdie vloer sag geword en die stoele het gedurende die diens stadig weggesak. Die diens moes eers gestaak word sodat ñ paar sterk manne eers die stoele kon uittrek.
Groot behoefte het ontstaan vir ñ nuwe kerk, maar die fondse daarvoor was maar min.
1871sterf John Mouberg. Sy testament waarin hy alles aan die Kerk bemaak het, was toegeknoop in ñ sakdoek. Dit het die kerk in staat gestel om grond te koop en ñ nuwe groter klipgebou te kon oprig.
25 Maart 1890 is die hoeksteen gelê.
Gebou is ontwerp deur John George Crone en gebou deur Augustus Falconer. Tipiese Engelse kerk in die Gotiese styl.
Die kerk is gebou van klip uit die Ventersdorp-Lichtenburg area.
Augustus 1890 het een van die boë/ koepels inmekaar gestort wat bouwerk vertraag het en almal betrokke laat bedank het.
ñ Plaaslike argitek, John William Gaisford , het ingespring en die gebou gered.
14 Junie 1891 is die onvoltooide kerkgebou geopen. Plafon het nog gekort en mure was nog ongepleisterd. 1897 was alles voltooi.
Later is ook ñ pastorie gebou.
Gedurende die ABO was die kerk gesluit en net na die oorlog is die oorspronklike kerkie deur ñ Carl Olën gekoop, wat dit platgeslaan het.
Ten spyte van probleme en struikelblokke het hierdie gemeente bly voortbestaan.
Bronsplate herdenk persone en gebeure in hierdie gemeente se grskiedenis. Ook ñ ererol van Potchefstroom burgers wat geveg het.
Geskenke oor die jare dra by tot die uniekheid van hierdie historiese kerk wat sy plek in die samelewing vol staan en steeds ñ groot rol speel in Potchefstroom.
ñ Besonderse mat is ñ gedeelte van die mat in die Westminster Abbey wat gebruik was tydens die inhuldiging van Koningin Elizabeth II in 1952. Dit was geskenk aan St Mary’s omrede dit die oudste kerk in die Transvaal was.
St Mary’s kerk se loodglasvensters is besonders. 1929 is die eerste 3 ingesit, 1945 nog en die laastes 1987.
Die klok het baie jare lank Sondae lidmate geroep en was luid gelui tydens oorwinnings en Vredesluitings na oorloë.
1991 is St Mary’s Kerkgebou as nasionale monument verklaar. Sedertdien word hierdie kerk netjies onderhou en bewaar.
Foto’s Febr 2026 Dankie Gys Ströh snr en Nicky Jansen van Vuuren y van Chilli PicNic
Bronne: Potchefstroom Kerketoer deur Potch
Kultuur en Stories van Potchefstroom deur Dr Lennie Gouws. The Parish of St Mary’s – Potchefstroom 1866-1966












KATOLIEKE KERK POTCHEFSTROOM
Klooster: Convent of the Sacred Heart
Potchefstroom
Die eerste Katolieke het al in 1854 in Potchefstroom aangekom.
Aangesien die ZAR redelik anti-Katoliek was, was daar aanvanklik heelwat struikelblokke om te oorkom. 1856 het die eerste priester die Katolieke in Potchefstroom besoek.
Die eerste mis was in 1864 in ñ huis gehou.
1969 is die Katolieke Kerk Potchefstroom ( St Michael’s) gestig.
Die eerste permanente priester was Monsignor Monginaux en kort daarna is hy opgevolg deur Vader A Schoch.
Mei 1892 koop die kerk grond in Bergstraat vir ñ woning vir priesters.
Junie 1889 word die klooster , Convent of the Sacred Heart Boarding School gestig nadat Mother Mauritia Tiefen-boeck en 8 sisters (nonne) uit Grahamstad by hulle aangesluit het. Klooster word in Bergstraat vir hulle opgerig waar die beleid van stilte en afgesonder van die wêreld gevolg word.
ñ Skool word gebou vir die kinders. Die nonne het self douvoordag ingespring om die stene wat in die agtertuin gebrand is, aan te dra. Harde liefdeswerk vir die vrouens
Fondse was ñ reuse probleem en vir ñ tyd lank het hulle ñ toelaag ontvang nadat hulle daarvoor aansoek gedoen het. Pres Paul Kruger het die toelaag toegestaan op voorwaarde dat Nederlands ook aangebied word.
Hierdie Katolieke Kerk is goed deur Engelse sowel as Afrikaanse inwoners van Potchefstroom aanvaar.
Daar was ook seuns in daardie skool toegelaat, selfs bokslesse is aangebied. Met die stigting van Boys High het die seuns oorgeskuif.
Tydens die ABO was dit die enigste skool in Potchefstroom wat oopgebly het.
Na die oorlog het die getalle gou gegroei en uitbreidings was nodig.
9 September 1903 is die hoeksteen van die nuwe hoofgebou gelê.
1913 weereens nodig om ñ nuwe blok te bou en mettertyd het ñ hele kompleks ontstaan.
1924 is ñ kapel gebou wat plaaslike gemeente ook gebruik het. ñ Galery is aangebou om nonne se afsondering te respekteer.
1963 is ñ Olimpiese swembad gebou.
Die skool is later platgeslaan.
1972 het die klooster gesluit.
1974 tot 1981 het PU vir CHO die geboue gehuur en as koshuise vir studente aangewend. Die naam was Klooster.
1982 het die studente verhuis na ñ nuutgeboude koshuis , Veritas.
Die kapel was deur die Katolieke gebruik tot 1981 totdat hulle ñ nuwe kerkgebou in gebruik geneem het.
1993 is die 3,5 hektaar met sy geboue gekoop deur Huis Eikelaan Behuisingstrust. Huisies en woonstelletjies is ingerig en gebou vir bejaarde persone. ñ Versorgingseenheid ook ingerig.
Die stil kamers, gange en eetsaal is nou gevul met ñ lewendige en besige tuiste vir bejaardes.
Die kapel is netjies en versorg en word steeds gebruik vir eredienste deur die verskillende kerk. Byna al die tekens van die Roomse Kerk is verwyder. Agter die altaar ñ netjiese biblioteek vir inwoners van Huis Eikelaan.
Foto’s Febr 2026 Dankie Gys Ströh snr en Nicky van Chilli Picnic
Bronne: Potchefstroom Kerketoer deur Potch Kultuur en Stories van Potchefstroom deur Dr Lennie Gouws.









HERVORMDE KERK POTCHEFSTROOM
Nederduits Hervormde Kerk
Die trekkers en pioniers o.a. Hendrik Potgieter het hulle gou na die Groot Trek in Potchefstroom gevestig.
1842 word die eerste diens in Potchefstroom onder ñ tent op die ou Markplein deur Ds Lindley gehou. Ds Lindley was ñ Amerikaanse Presbiteriaanse Sendeling wat die Trekkers in Natal, Vrystaat en noord van die Transvaal bedien het.
Hierdie datum in 1842 is dus die stigtingddatum van beide die NG Kerk en Hervormde Kerk on Potchefstroom. Die NG Kerk het later van die Hervormde kerk geskei.
Toestemming word verkry om ñ kerk te bou en die aangewese plek is die kerkplein. Op die hoek word die eerste Hervormde Kerk gebou, ñ T-vormige gebou sonder ñ toring.
Die mure was 4,8 meter hoog met ñ rietdak en vasgestampte klei of grondvloer. Hout was moeilik verkrygbaar en moes met groot kostes van die kus per wa aangery word. Hout was gewoonlik net vir dakkappe gebruik.
Elke lidmaat het sy eie stoel saamgebring.
MW Pretorius was ñ lidmaat van hierdie Hervormde Kerk en die Volksraad het hulle vergaderings hier gehou. Paul Kruger se naam is ook in die kerkboeke aangeteken as lidmaat van hierdie kerk. Paul Kruger se dorpshuis (kerkhuis) het digby kerkplein gestaan.
ñ Preekstoel van stinkhout en geelhout is later aangebring.
Aangesien die kerk sonder enige hulpmiddels self gebou was, was hy maar redelik skeef. Van die mure was skeef en die vensters ook nie presies reg oor mekaar nie.
Nogtans het trotse lidmate Nagmaal naweke in groot getalle in ossewaens en tente op die Kerkplein gekamp.
Daar was ñ oggend en aanddiens elke Sondag gehou met Sondagskool in die middag.
Gedurende die week was dit as ñ skoolgebou gebruik.
Die gebou is in 1857 voltooi en Fs van der Hoff en Pres MW Pretorius het in 1859 die hoeksteen gelê.
Ds van der Hoff was die eerste voltydse leraar (uit Nederland) vanaf 1853 tot met sy dood in 1881. Hy was altyd tot beskikking van sy gemeentelede en het hulle altyd op sy stoep ontvang. Waarskynlik die oorsprong van die naam Stoepsitters vir die Hervormers.
1854 is ñ muur om die kerk gebou met skietgate en by die 2 hoeke skiethokke. Gelukkig was dit nooit nodig om hierdie kerk as fort te gebruik nie.
Hier het baie geskiedkundige gebeure plaasgevind:
President MW Pretorius en ander ampsdraers van die ZAR is 1857 hier bevestig.
Die Vierkleur wat deur Ds van der Hoff en sy broer ontwerp is, is tydens hierdie geleentheid vir die eerste keer gehys.
1938 tydens Simboliese Ossewatrek het waens hier op die Kerkplein gestaan. Ook met inwyding van Voortrekkermonument in 1949. Weereens 1888 met 150 jaar herdenking van Groot Trek.
2025 het die Krugerbeeld ook hier aangedoen op sy reis van die Noorde na die suide.
Tydens die Slag van Potchefstroom is die Britse Garnisoen wat hulle in die Magistraatskantoor ingeburger het vanuit die geboue by die Kerkplein onder skoot gehou. Nadat die Magistraatskantoor se dak aan die brand gesteek was, moes hulle noodgedwonge die wit vlag opsteek. Die koeëlgate teen die kerkmure moes herstel word.
NUWE KERKGEBOU
Die kerk het gou te klein geword en ñ groter kerk is gebou wat op Februarie 1866 ingewy was. Die hoeksteen reeds 1860 gelê. Die bouwerk was maar stadig want die manlike lidmate was kort-kort opgeroep vir kommandodiens en due burgeroorlog 1864 het bouery ook laat stil staan.
Nagmaal was steeds die hoogtepunt met waens en tente uitgespan op die kerkplein. Saans het die lampe by die stanings gebrand terwyl psalms en gesange orals opgeklink het.
Die klok het gelui vir marksake sowel as kerksake. Met al die dope en troues het die klok kort-kort gebeier.
Tot 1883 het lidmate saans met kerse aanddiens bygewoon.
1891 is die eerste orrel aangekoop in London en per ossewa na Potchefstroom gebring.
1892 en 1893 is verbeteringe aangebring. Nuwe hoeksteen is gelê, sinkdak aangebring, die oorspronklike houttoring afgebreek, ñ nuwe toring is aangebou, plankvloere ingesit, plafon is herstel, die mure is by die hoeke versterk, groter vensters en ñ galery is aangebring.
Die ou kerkie is vir ñ tyd lank as skoolgebou gebruik, maar is later afgebreek.
Errwaarde du Toit ( broer van Totius ) volg Ds van der Hoff op en hy laat olielampe uit Engeland kom om die kerk te verlig.
Die orrel word ook opgeknap, nou met ñ blaasbalk en elektrisiteit.
Die eerste kansel van die ou kerkie word gebruik deur dit bo-op die nuwe kansel aan te bring
Tydens Eerste Vryheidsoorlog word die kerkgebou beskadig met ñ paar koeëlgate as bewyse in die mure.
Tydens ABO word vrouens en kinders in die kerkgebou gehuisves en ds Du Toit lewer onskatbare diens en werk in die Konsentrasiekamp.
RESTOURASIE
Restourasie van so ñ ou gebou is ñ voortdurende taak.
1952 word weer ñ groot restourasie projek aangepak.
1953 word ñ brons borsbeel ( deur Coert Steynberg ) van Ds van der Hoff voor die kerk geplaas.
1966 word die haan wat skeef op die toring staan, herstel. Die dak word herstel en die krake in die mure herstel. Die krake was die gevolg van ñ bom wat tydens WWI in Boerenwinkel ontplof het.
2012 is die Van der Hoff bronsbeeld gesteel. Dit is vervang deur Coert Steynberg se dogter en word nou veilig binne die kerk bewaar. ñ Veselglas borsbeeld is nou op die oorspronklike plek geplaas.
2015 is die orrel volledig gerestoureer. Die handpomp weer her-installeer, iets wat baie handig te pas gekom het tydens beurtkrag. Die orrel is besonders so in sy oorspronklike toestand. Gelukkig is die pype nog ook soos oorspronklik versier.
Die kanselkleed ook sedert 1890 in gebruik.
SCHIK U O MENSCH
OM UWEN
GOD
TE ONTMOETEN
GEDENKSTEEN
ñ Gedenksteen is opgerig ter nagedagtenis aan die Wolmaransfamilie wat so ñ groot rol gespeel het in hierdie gemeente en in die gemeenskap.
KLIPSTAPEL
150 Jaar herdenking van die Groot Trek op besondere wyse herdenk. 1838 tot 1988.
Gemeentes van die Wes-Transvaal streek het op 19 Maart 1988 hier op die kerkplein saamgetrek ter deelname aan die feesvieringe. Klipstapel met die name en datums van die gemeentes is hier gepak en vasgemessel.




















KERKPLEIN Hervormde Kerk
Op die kerkplein langs die kerkgebou is ñ veilig-omheinde Ossewa. Netjies bewaar
ñ Klipstapel ter herdenking van die 1938 Simboliese Ossewatrek ( Die Gereformeerde Gemeente Potchefstroom en Hervormde of Gereformeerde Gemeente Mooirivier se name weerskante op muurtjie aangebring wat klipstapel omring.
ñ Bakoond opgerig tydens 150 jaar herdenking van die Groot Trek
Hierdie kerkgebou met die aangrensende netjies versorgde groot kerkplein is ñ lus vit die oog en lafenis vir die siel.
Dankie Potchefstroom Kultuur en Johan Wolfaard vir ñ wonderlike geleentheid om hier besoek te kon aflê.
Samesteller Kobie Ströh
Foto’s Febr 2026 Dankie Gys Ströh snr en Nicky van Chilli Picnic
Bronne: Potchefstroom Kerketoer deur Potch Kultuur en Stories van Potchefstroom deur Dr Lennie Gouws.









