Port Elizabeth. Stadsaal. Dias Kruis.
Oos-Kaap
Port Elizabeth is geleë in Algoabaai
1488 het Batholomeus Diaz hier anker gegooi
1497 Vasco da Gama hier aangedoen
Algoabaai was die plek waar matrose vars water kon kry na maande se seereis
Na die VOC se aankoms in Kaap de Goede Hoop word Algoabaai deel van die Kaapkolonie
Die goewerneur van die Kaap, Sir Rufane Donkin, vernoem die stad na sy vrou Elizabeth: Port Elizabeth
1820 het ongeveer 4500 Britse Setlaars hier aan wal gekom
ABO 1899-1902 het Port Elizabeth as hawe ń belangrike rol vervul
Port Elizabeth het gegroei en ontwikkel tot ń stad met karakter, oud en nuut pronk bymekaar. Pragtige ou geboue, verskillende boustyle het pragtig bewaar gebly.
Stadsaal
Gebou 1858-1862
Kloktoring is in 1883 bygevoeg
Stadsaal is in 1973 as Monument verklaar
1977 het gebou afgebrand, maar is weer herbou
Voor is ń plein waar replika van Diaz kruis staan
Diaz Klip
Onbekende Monument met afgesteelde bordjies. Lister Monument (Dankie Roché Walker Petersen)
Port Elizabeth se Prester John-gedenkteken
GESKRYF DEUR EMILE COETZEE OP AUGUSTUS 19, 2020 MONUMENTE (Eensgesind)
Op Flemingplein in Port Elizabeth is ʼn gedenkteken ter herdenking van ʼn persoon wat moontlik nooit bestaan het nie. Hier word verwys na die Prester John-gedenkteken.
Dit is maklik om die gedenkteken te vind. Soek net vir die Koptiese kruis met twee figure wat binne-in die sirkel op die kruispunt van Koptiese kruis sit. Die een figuur is ʼn Portugese seevaarder en die ander figuur simboliseer Prester John. Maar wie was hierdie legendariese Prester John?
Volgens legende was Prester John ʼn skatryk koning en Christelike priester wat teen die einde van die Europese Middeleeue geleef het. Daar word vertel dat hy ʼn afstammeling van een van die drie wyse manne (bekend as Magi) was wat die Christuskind in Bethlehem besoek het. Daarna was die einste wyse man en sy afstammelinge glo volgelinge van Jesus Christus en hulle het hom in hul koninryk iewers in Asië aanbid.
Die eerste dokument wat na Prester John verwys dateer uit 1145 AD. Hugo, die biskop van Jabala in Libanon was in Viterbo, Italië, op besoek. Hy en die biskop van Rome, pous Eugenius, het samesprekings gevoer oor die Turkse magte wat gedreig het om die Levant-streek in te val. Hugo het natuurlik die pous se hulp gevra en genoem dat daar geglo word dat Prester John bereid is om Hugo en die ander Christene in die Levant te kom help, maar dat hy nie verder as die Tigrisrivier kon kom nie. Die moontlike rede was dat die Turkse magte hom verhoed het om verder as die Tigris te trek, alhoewel hy reeds die Islamitiese magte in Persië (hedendaagse Iran) verslaan het. Dit is nie duidelik of hierdie storie die pous oortuig het om Hugo te help nie.
Twintig jaar later ontvang die Bisantynse keiser, Manuel Comnenus, ʼn brief met dieselfde verhaal. Prester John is by die Tigrisrivier vasgekeer en kan nie verder beweeg nie. Europese magte moet die Levant help om die Islamitiese magte te verdryf, sodat Prester John kan help om Jerusalem ʼn Christenstad te maak. Keiser Manuel Comnenus het die brief aan sy eweknie in die Heilige Romeinse ryk, Keiser Frederick Barbarous, gestuur sodat hy die keiser van Bisantium kon adviseer. Dit blyk dat die brief vervals was en die beloftes van waardevolle skatte wat Prester John vir die Europese magte sou gee indien hulle sou veg om by hom uit te kom, kan as leuens beskou word.
Teen die middel van die 13de eeu, toe die kruistogte so te sê verby was, het Europese reisigers in Asië probeer om Prester John en sy koninkryk te vind. Hulle was nie suksesvol nie. Gerugte het toe in die 14de eeu onstaan dat Prester John glad nie in Asië bly nie, maar in Afrika en spesifiek in Ethiopië. Gedurende die 15de eeu het Portugese seevaarders die bykomende verantwoordelikheid gehad om Prester John te soek, soos wat hulle verder suid om Afrika vaar. Is dit dan moontlik dat beide Dias en Da Gama op die uitkyk vir Prester John moes wees?
Hedendaags word aanvaar dat Prester John nooit bestaan het nie en maar net ʼn legendariese figuur uit die Europese Middeleeue was. Die geloof dat hy wel bestaan het, het Europese magte dalk oortuig om die kontinente Asië en Afrika verder te verken. Sodoende is die monument in Port Elizabeth liewers ter herdenking van die legende van Prester John as die feit dat hy nooit bestaan het nie. Terselfdertyd beklemtoon hierdie monument die historiese verband tussen Suid-Afrika en Portugal.













Die raaisel van die Onbekende Monument Port Elizabeth is opgeklaar deur Roché Walker Petersen
DIE LISTER -MONUMENT PORT ELIZABETH
Hierdie gedenkteken in sy stukkie groen parkie aan Marine-rylaan, Somerstrand, is gewy aan Joseph Storr Lister, die bosbouer en duinetemmer.
Ek het as plaaskind na skool by familie in die Baai gaan woon en werk, en hierdie monumentjie toe raakgeloop. Eintlik gaan soek, want my bus had elke dag tweemaal by hom verbygery. Ek praat nou van 2003.
Joseph Storr Lister is op 1 Oktober 1852 te Uitenhage gebore en was die skoonseun van baaspadbouer Thomas Bain.
Na ‘n tydperk in Indië keer hy terug na die Kaapkolonie en vestig ons bosboubedryf; hy meen om die druk op ons inheemse woude as gevolg van die alewige nood om hout deur die spoorweë te verlig deur uitheemse plantasies aan te lê. Hy stig die SA Bosbouskool te Tokai, wat later na Saasveld in George verskuif.
Tydens sy bestuurstyd by Uitvlugt, vandag Pinelands, is die verslane Hlubi-hoofman Langalibalele hier aangehou met Lister as sy bewaarder, wie ook later bewaarder was vir Cesthwayo na hy by Ulundi verslaan is.
Maar hierdie gedenksuil vier Lister as die temmer van die “Driftsands” wes van Algoabaai, wat soos die swaard van Damokles gedreig het om die hawe kaai en baai te verswelg. Port Elizabeth staan nie verniet as “Die Winderige Stad” bekend nie!
Hierdie was egter nie baanbrekerswerk nie, want byna twee dekades voor Port Elizabeth, in 1877, het Lister die Kaapse spoorlyn na die noorde van die immerkruipende duineveld gered. Die Kaapse Duineveld het gestrek van die Valsbaaikuslyn tot omtrent die lyn van Voortrekkerweg, oor vandag se Epping, Langa, Elsiesrivier, Bellville-Suid en die lughawegebied, en van wes van vandag se M5 tot duskant Somerset-Wes. Vir sowat twee eeue was die Kaapse Vlakte ‘n onbegaanbare woesteny, en moes enige reistog oor die Bottelaryheuwels en via Stellenbosch na die Hottentots-Holland.
Na aanleiding van sy sukses in die Kaap is Lister genader om dieselfde in Port Elizabeth te doen, waar die duineveld van sowat 40km² en 9m hoog ooswaarts kruip; vorige pogings het tot dusver almal gefaal. 80 ton rommel is daagliks per spesiaalaangelegde spoorlyn na die duineveld aangery en met bandietarbeid oor die duine gestrooi om die sand vas te lê en snelgroeiende bome is aangeplant – Rooikrans (Acasia cyclops) en Port Jackson (Acasia saligna).
Met die duineveld gestabiliseer is die hawe gered en die dorp van sandstorms gespaar.
Later, toe hierdie gebied ontwikkel is, is ‘n gedeelte van Somerstrand ‘Listerwood’ gedoop.
Versamelaars grawe steeds dikwels ou glas- em keramiekbottels onder die grond uit, en die area is as ‘t ware ‘n metaalverklikkersparadys. Die vondse hier lewer ‘n blik op die lewe in dié kusdorp aan die einde van die 19de en die begin van die 20ste eeu.
Lister het bosboudepartemente in Oranjerivierkolonie en in Natal op die been gebring, en is met Uniewording as hoofbosbouer aangestel.
Vandag is daar geen teken meer van die duinevelde van die Kaapse Vlakte of Algoabaai nie, maar die Alexandria-duineveld aan die ooskus van die baai skep ‘n indruk baie na aan die waarheid van wat kon wees.
Die nadeel van Lister se baanbrekerswerk is natuurlik die impak van hierdie indiringerplante of ons eie ekostelsels, maar die uitroeiprojekte daarvan verskaf darem vir ons lekker braaihout!
Lister sterf op 27 Februarie 1927 te Kenilworth, Kaapstad.
Ek weet ongelukkig nie wanneer hierdie monument opgerig is nie en wat op die plaat gestaan het nie. Pogings om die joernaliste wie die artikels in die bronnelys geskryf het te kontak of om verdere nligting te bekom was onsuksesvol. Ek gee egter nie tou op nie; sodra ek iets nuuts leer, bring ek onmiddelik my artikel by.
Dit dan die verhaal agter hierdie vergete klipstapeltjie.
Bronne:
McCleland, Dean. “Schoenmakerskop of Yore: Is it Misplaced Nostalgia?” The Casual Observer. 25-04-2023. Besoek 27-06-2025.
McCleland, Dean. “Menace of the Drift Sands” The Casual Observer. 11-07-2019. Besoek 27-06-2025.
McCleland, Dean. The Saga of the Drift Sands”” The Casual Observer. 01-12-2016. Besoek 27-06-2025.
Wikipedia (2025). “Joseph Storr Lister”. 30-10-2024. Besoek 27-06-2025.
Persoonlike Korrespondensie: Ivor Markman 12-07-2025
Persoonlike Korrespondensie: Dean McCleland 21-07-2025
Summerstrand Connections. Facebook. Besoek 22-07-2025
Roché Walker Petersen








Let op hoe naby aan die hawe die duineveld lê; die duineveld regs bo is om-en-by waar Humewood vandag staan. Bouwerk aan die Augustynskerk links onder is in 1861 begin en in 1866 voltooi.