Krugersdorp
Ou Toppies
Geliefde kuierplek waar Paul Kruger graag gekuier het.
DIE OU TOPPIES KLUB / KRUGERSDORP KLUB (Ockersestraat)
Ou Historiese klub uit die 1890’s
Paul Kruger en Dr Wouter van der Merwe was die stigters van die Krugersdorp Klub.
Dr van der Merwe het in die huis regoor die plek gewoon waar die klub vandag nog is.
Dr van der Merwe, en soms Dr Steward ook, het in die 1890’s saans hulle praktyke gesluit en onder die groot boom by Dr van der Merwe se huis gaan ontspan. In die grasbedekte skadu van die groot Jakarandaboom het hulle ‘n welverdiende ruskansie gekry en ietsie te drinke geniet.
https://monument-sa.co.za/paul-kruger-se-kuierboom…
Paul Kruger het gereeld Krugersdorp besoek en dan ook die rustigheid en koelte onder die Jakarandaboom geniet.
Soos die dorp gegroei het en die inwoners meer geraak het, is besware oor drink in publiek geopper.
Nadat Paul Kruger en Dr van der Merwe deur die polisiekonstabel aangespreek is , het hulle besluit om ‘n klub oorkant die pad oop te maak.
Dit sou ‘n manne-klub wees, die Krugersdorp Klub, Die Gentleman’s Club.

In 1894 is die Krugersdorp Klub gestig en die gebou is sedert 1897 in gebruik.
Die Klub het vinnig gegroei en teen 1910 was daar reeds meer as 400 lede.
Krugersdorp Klub was gewild onder middelklas werkende Engels- sowel as Afrikaanssprekendes.
Tydens die Anglo-Boereoorlog, na die Britse besetting van Krugersdorp, is die klub meestal deur Britte besoek.
Dit het ‘n bron van waardevolle inligting van Britse bewegings geword.
Dr van der Merwe het in die geheim inligting en boodskappe na die kommando’s gestuur. Dikwels was hierdie boodskappe versteek in honde se halsbande.
Deur die jare het baie min in hierdie gebou verander en die klub, nou die Ou Toppies Klub, is steeds ‘n gewilde kuierplek.
Die ou raadskamer (Boardsroom) wat self deur Paul Kruger gebruik is, spog met ‘n besoekersboek en ‘n Voorsittersbord teen die muur wat getuig van ‘n ryke verlede.

Hak maar gerus jou perd se toom vas aan die perdehak wat nog steeds buite op die sypaadjie is (verstommend) en stap die verlede in.
Oorspronklike houtvloere, die houtkroeg en diep houtkleure en geure van die statige meubels trek dadelik die aandag.

Die besonderse staalplafonne is verskillend in elke vertrek .
Die staalplafonne vertel elkeen sy eie storie van herkoms. Na die Britse besetting van Krugersdorp het die Britse soldate toestemming vanaf hulle Queen verkry om by die Krugersdorp Klub aan te sluit. Elke plafon verteenwoordig een van die kolonies van daardie tyd.

Bronne: Internet. Facebook. Heritage Portal.
Krugersdorp 100 1887 – 1987
FAK Kultuurnetwerk Krugersdorp Geskiedenistoere 2022, 2024
Foto’s: Internet, Facebook. Gys Ströh snr Sept 2022, Maart 2024

