KRUITHUIS / GUNPOWDER MAGAZINE

KRUITHUIS / GUNPOWDER MAGAZINE

Kruithuise in Suid-Afrika

Vuurwapens en kruit het ‘n noodsaaklike rol in Suid-Afrika gespeel in die lewens van die vroeë Pioniers en Setlaars vanaf Europa.

Wapens en kruit was nodig vir jag, verdediging en veg in oorlogstye.

Elke persoon of gesin het maar sy eie vuurwapens gehad en die nodige kruit.

Daar was altyd ‘n groot aanvraag na kruit en as die Voortrekkers nie kruit by ‘n smous kon aankoop nie, het hulle sommer hulle eie kruit gemaak met ‘n mengsel van blomswael, salpeter, houtskool en brandewyn.

Die ou gewere en kanonne is gelaai met los poeier wat dan ontplof het en ‘n loodballetjie of te wel ‘n koeël uitgeskiet het. Die wapens en kruit was maar onvoorspelbaar en baie gevaarlik.

Die kruit was ‘n mengsel van chemiese stowwe wat reeds in die 13de eeu al gebruik was.

Gedurende die 1800’s was Swartkruit gebruik in die ou gewere en kanonne.

Hierdie Swartkruit was hoogs kragtig en plofbaar, 1 kg kruit het die plofkrag van ongeveer 5000 perdekrag.

Namate mense nader aan mekaar gevestig geraak het en dorpe ontstaan het, is die gevaar van hierdie plofstof besef en om beheer uit te oefen was die hoeveelhede beperk en geberg in die kantore van veral die landdroste.

Mettertyd is daar geboutjies of te wel kruithuise opgerig om hierdie kruit veilig te berg.

Die kruithuise was sterk gebou, gewoonlik van klip, buite die dorpe ter wille van veiligheid. Die kruid en wapens moes hier geberg word om in geval van ‘n ontploffing skade en lewensverlies te beperk.

Die grootte van die kruithuise het verskil na gelang van die veiligheid van die area, die hoeveelheid inwoners en plaasbewoners en of daar gewere en kanonne ook geberg moes word.

Byna al die Voortrekkerdorpe het sulke kruithuise gehad. Sterk en veilig gebou. Tydens aanvalle en in oorlogstye was daar spesiale planne beraam om hierdie kruithuise te beskerm teen die vyand wat dit graag sou wou oorneem.

Party kruithuise was ook deeglik gekamoefleer.

‘n Hele paar kruithuise het behoue gebly, sommige in erg verwaarlose en vervalle toestand, maar party is pragtig gerestoureer en word in stand gehou en word selfs as museums aangewend.

Voorbeelde hiervan is die ou VOC Kruithuis in Stellenbosch (1777), Kruithuise in Graaff Reinet (1831), Potchefstroom (1841/1860), Philippolis (1847), Colesberg (1842) en Fort Frederick in Port Elizabeth.

Hierdie klein, sterk geboutjies staan as ‘n stille getuie van ‘n ryke verlede.

Bydrae deur Kobie Ströh

Lees meer oor Potchefstroom kruithuis:

https://lenniegouws.co.za/gunpowder-magazine-small…/…

Fort Frederick:

https://monument-sa.co.za/fort-frederick-port-elizabeth…

Colesberg:

https://monument-sa.co.za/fort-frederick-port-elizabeth…

Philippolis:

https://www.philippolisinfo.co.za/historical.htm

GRAAFF REINET 2019

POTCHEFSTROOM Maart 2026

Maak 'n opvolg-bydrae