KRUGERSDORP
DIE OU ZAR POLISIESTASIE EN STALLE 1897
Kommisarisstraat
Paul Kruger stel in 1886 self die dorp, Krugersdorp, se eerste geregsdienaar aan, die Hollander Robert Gerrit Ockerse.
Ockerse was Vrederegter, Kleiminspekteur en Posmeester.
‘n Deel van sy pligte was om minder belangrike klagtes te ondersoek. Hy moes ook name aan die nuwe dorp se strate gee.
As hulp het hy een blanke en 3 swart konstabels gehad.
1888 neem Sersant Frederick Tossel by Ockerse oor as plaaslike hoof van die Zuid-Afrikaansche Politie. Met die hulp van 6 berede manskappe bedien hy die gebied van Langlaagte tot Gatsrand en Rustenburg.
Krugersdorp was dus reeds van vroeg af die distrikshoofkantoor vir die polisie.
Sersant Tossel word opgevolg deur Sarel Eloff, ‘n kleinseun van Paul Kruger.
1897 word ‘n polisiegebou opgerig en in gebruik geneem. Die gebou is gebou met die tipiese rooi bakstene en gewels op die vooraansig en besonderse dik mure. Binne is die pragtigste houtwerk en loodglaswerk.
Interessant is die hoë en breë ingang waardeur die berede polisiemanne gery het na die binnehof om hulle perde uit te span.
Die hoeksteen is gelê Januarie 1897 deur SJ Eloff (Sarel) . Aannemer D de Waard en HFD Opzichter GF Obermeijer.
Tydens die ABO in 1901 het die Britte onder leiding van General Hunter Krugersdorp sonder slag of skoot oorgeneem en die Britse vlag voor die polisiegebou gehys. Die Britse troepe het ongesteurd deur die strate van Krugersdorp masjeer.
1972 word ‘n nuwe polisiegebou langsaan opgerig.
Die ou polisiestasie is tans in ‘n erg vervalle en verwaardloosde toestand en dit lyk meer asof die ou gebou slegs as rusplek vir polisielede dien.
Bronne: Internet. Facebook. Heritage Portal. Krugersdorp 100 1887 – 1987
FAK Kultuurnetwerk Krugersdorp Geskiedenistoere 2024
Foto’s: Internet, Facebook. Gys Ströh snr Maart 2024











