Die Ring Ossewa Herberg / Oxwagen Lodge

Die Ring Ossewa Herberg

Oxwagen Lodge

Saartjiesnek

Hartebeespoort

Erik Holm

‘n Stokperdjie lei tot ‘n unieke ervaring

OXWAGON LODGE

Hierdie is een van die uniekste plekke in Suid-Afrika.

‘n Lewende museum wat jou terugneem in tyd.

Ses Ossewaens in ‘n laer getrek, ten volle gerestoureer deur Prof Erik Holm. Die slaapgedeelte is binne die ossewa self. Elke ossewa is aan ‘n hartbeeshuisie gekoppel met ‘n sitkamertjie of ektra slaapplek en ‘n badkamer. En moet nie die moderne byvoeging vergeet nie …elektrisiteit!

Daar is verskillende grootte waens; Die kleinste die Felix Lategan Wa met slaapplek vir 2 en die grootste Bert Joubert Wa met slaapplek vir 6. Elke wa se ouderdom en geskiedenis is langs hom aangebring.

Bederf jouself met bosveld gasvryheid en vriendelike personeel.

Slaap in ‘n oorspronklike ossewa.

Kuier om ‘n vuurtjie in ‘n lapa en ruik die vars koffie wat op die vuur prut.

Geniet tuisgebakte vars brood en tradisionele geregte soos roosterkoek of die geurigste beesstert so direk uit ‘n driepoot-potjie of sommer ‘n lekker Trekker braai .

Stap rond, verken en geniet die rustigheid en die uitsig oor die vallei.

Besoek die klein museumpie met toerusting, gereedskap en implimente uit vervloë dae.

Elke ossewa is ten volle gerestoureer, luuks ingerig en nooi jou sommer in.

Ervaar die prettigheid om met ‘n leertjie op te klim na jou bed toe, die watent oor jou kop , inkruip in die bed en dan die skokkende besef van hoe het die Trekkers maande lank hierin geleef en oorleef?

MAAR WAAR HET HIERDIE UNIEKE PLEK BEGIN?

ERIK HOLM

By Professor Erik Holm, een van die laaste wamakers in die land en een van die grootste kenners van rytuie en waens wêreldwyd met meer as 30 jaar ervaring.

Prof Erik Holm is ‘n afgetrede entomoloog, kunstenaar, houtwerker. wabouer.

Gebore 4 julie 1945 in Ollendorf, Duitsland

1948 vestig sy ouers hulle in die omgewing van die Hartebeespoortdam.

Sy skoolloopbaan begin hy by Kameeldrift Laerskool, later Generaal Hendrik Schoeman Laerskool en voltooi by Hoërskool Brits.

Van kleins af het Erik insekte versamel, voëls opgestop en geraamtes van diere gemonteer.

Sy moeder Elly Holm was self ‘n kunstenaar en moedig Erik aan om sy in hoërskooljare biologiese illustrasiewerk te doen.

Die besige Erik Holm werk in vakansietye by die Transvaal Museum onder dr Charles Koch.

Een van sy Hoërskool onderwysers is entoesiasties oor biologie en houtwerk en dit inspireer Erik Holm nog verder.

1960 koop Erik en sy broers ‘n plasie van 25 hektaar by Zanadu Bezuidenhout . Hulle sny dit op en word bure.

Erik se gedeelte is die werf waarop Die Ring Ossewa later ontstaan.

Sy ouers tree af en woon in die eerste huisie.

Erik Holm se loopbaan:

1966 verwef BSC graad aan die Universiteit van Pretoria

Werk 4 jaar as tegniese assistent saam met dr Koch in die Namibwoestyn

1969 Insektaksonoom by Landbou-tegniese dienste

1970 MSc graad

1974 DSc graad Univ. Pretoria

1975 Lektor in Departement Entomologie Univ, Pretoria , 1977 Senior lektor

1980 Professor en Hoof van Departement Entomologie

1994 Tree Prof Erik Holm af weens gesondheidsredes

Hy het meer as 95 wetenskaplike artikels oor insek-ekologie, -taksonomie en –evolusie gepubliseer en 14 boeke oor insekte en insekgedrag gepubliseer. Selfs kinderboeke en naslaanboeke kom uit sy pen. Hy het aan meer as 30 “nuwe” insekte naam gegee.

Sedert 1980 het Prof Erik Holm deelgeneem aan natuurprogramme op radio , tv en dokumentêre films.

Sy stokperdjie was maar deurentyd handwerk, die bou van meubels en die herbou van rytuie en waens.

DIE RING OSSEWA

STOKPERDJIE WORD ‘n KULTUURERFENIS

Erik Holm en sy talentvolle vrou , Elsabe Holm, benut hulle werf as ñ somerskool vir kinders waar hulle leer handwerk doen.

Die kinders leer ou tradisionele vaardighede soos smeewerk, houtwerk, skilderwerk en leerwerk

Hulle ontwikkel hierdie plaasoord as ‘n Kultuursentrum en menige bekende kunstenaars en sangers tree graag hier op in ‘n spesiaal-geboude amfiteater.

Erik en Elsabe bied oom pioniersfeeste hier aan waar pioniers- ambagte soos wiele kort, brood bak, voorlaaier skiet en nog vele meer, mense van heinde en verre lok.

Erik se belangstelling in historiese ambagte lei daatoe dat hy ‘n besonderse kundigheid opbou in die bou en herbou van ou rytuie.

Die restoureer van waens raak ‘n lekker projek wat baie aandag trek.

1986 kry Prof Erik Holm ‘n ou wa as geskenk wat hy netjies gerestoureer het. Hy ervaar die mense wil graag daarin slaap.

Op die werf staan ‘n paar ou waens wat hom die idee gee van ‘n laer waarin mense die ervaring van Ossewalewe kan beleef.

1994 word Die Ring Ossewa Herberg geopen en suksesvol bedryf. ‘n Ware kultuurervaring. Nostalgie van ‘n tyd in ons volk se geskiedenis.

2004, na 10 jaar in die bedryf verhuur Erik die Ring Ossewa aan Mark Turner wat dit nou bedryf as die Oxwagen Lodge.

Erik het gevoel dat hy nou die ouderdom bereik het waar hy moet afskaal, min wetend die groot werk gaan al hoe groter word.

Kort-kort daag daar ‘n ou wa by sy woning op, uit die verste uithoeke van die land. Die waarde van hierdie ou waens en rytuie word al hoe meer besef en die noodsaaklikheid om dit te probeer bewaar. Daar in die ou skure, onder die bome is tyd besig om sy tol te eis.

Meer as ‘n 100 waens is al deur Erik Holm gerestoureer. Sy groot liefde is die herbou en restoureer van ossewaens en die navors van die groot rol wat die ossewa in ons geskiedenis gespeel het.

Die gevolge is ‘n voltydse wamakery deur Erik Holm, besiger en suksesvoller as ooit.

JS (Kobus ) Wolvaardt, uitgewer van die boek , Die Osswa en sy spore deur Erik Holm, p9: “Erik Holm is een van die laaste wamakers en beslis die grootste kenner wêreldwyd, want ons supersterk ossewaens is uniek in die wêreld van diergetrekte waens.”

Hopelik is Erik Holm nie die laaste wamaker in Suid-afrika nie! Ons hoop is gevestig op jong, sterk, energieke manne wat hierdie kuns wil aanleer!

Bronne: Erik Holm. Wikipedia. Internet.

Boek : Die Ossewa en sy spore, Erik Holm

Foto’s: Gys Ströh snr ( Gysbertus Johannes Ströh ) Desember 2024

Maak 'n opvolg-bydrae