DIE 3 BRûE TUSSEN VANDERBIJLPARK EN SASOLBURG / Vereeniging / Transvaal en Vrystaat / Baddrifbrug / Drif / Pont / Pontoonbrug / R57 Brug

DIE 3 BRûE TUSSEN VANDERBIJLPARK EN SASOLBURG / Transvaal en Vrystaat /  GAUTENG EN VRYSTAAT

Die Baddrifbrug

Die R57 Brûe

Die Vaalrivier vorm die grens tussen die Transvaal en die Vrystaat.

Die Vaaldriehoek het hoofsaaklik sy ontstaan te danke aan die standhoudende water van die Vaalrivier.

Reeds van vroegs af het boere hulle weerskante van die Vaalrivier gevestig.

Die rivier se vlak en wydte was baie wisselend. In die somer tydens die reënseisoen was dit ‘n groot en diep watermassa maar in die winter was die Vaalrivier, veral in droogtetye, net ‘n vlak dun stroompie van so 30cm diep.

1878 is daar steenkool  langs die Vaal ontdek en hierdie ontdekking  verander die hele area se geskiedenis.  In 1882 ontstaan die dorp Vereeniging.

DRIWWE  (Baddrift )

In die vroegste tye het die boere en reisigers die riviere by driwwe gekruis.     By driwwe, gewoonlik vlakker dele, veral waar daar klipplate was, het osse die ossewaens deur die riviere gesleep. By Vereeniging is daar meestal van die Viljoensdrift gebruik gemaak.

In die omgewing van waar Vanderbijlpark vandag is, was die ossewapad en trekboere, reisigers en transportryers het van die Baddrift hier gebruik gemaak.  Daar was  die Vaalrivier vlakker  en die osse  en perde kon  makliker  by die Baddrift die waens deur die Vaalrivier trek . In natter tye was die rivier voller en dan was dit moeilik en moes hulle maar wag tot die water gesak het  en deurswem as die rivier vlakker en veiliger was.  Die steil walle na die rivier toe en die modder  was nogal ‘n struikelblok, veral vir die transportryers met hulle swaar vragte.

Naby die drif (Baddrift)  was kruitbaddens  ( met minerale water) wat baie gewild was. Die boere het die kruitbaddens  besoek vir hulle genesende krag  (veral vir rumatiek en velkwale) en die water gedrink vir maagkwale  en ander siektes. Selfs die diere het verkies om hierdie water te drink. Dit is waarskynlik van hierdie kruitbaddens  af wat die Baddrift  sy naam verkry het. Die drif waar die kruitbaddens was.

BARRAGE

1923 is die Barrage voltooi wat die Vaalrivier se water opgedam het en toe het die kruitbabbens  met vars water oorstroom en onder die water verdwyn.

Die boere aan die Vrystaatkant het nou groot probleme gehad. Hulle kon nie meer hulle produkte deur die Baddrift oor die rivier vervoer na Vereeniging en Johannesburg toe nie. Die rivier was nou baie breër en 6 tot 8 meter diep.  Die drif was diep onder die water.

PONT

1928 het die Vrystaat toe ‘n pont opgerig op die plaas Rietfontein van Mnr Fivaz.  Die pont was ‘n groot houtvlot wat oor die rivier getrek kon word. Donkies  of muile het die pont met toue en kabels oor die rivier getrek. Die waens of karre was dan op die pont gelaai en oor die rivier getrek.

As die weer sleg was of die rivier te vol was kon die pont nie werk nie.  Voetgangers moes dan met bootjies of skuite oor die rivier geroei het. Die pont het van Mnr Fivaz se plaas aan die Vrystaatkant tot aan die Cloetes se plaas aan die Transvaalkant (waar Stonehaven  vandag is) gewerk.

Die houtpont het oud  en verweer geraak en in 1940 het die Vrystaat en die Transvaal saam ‘n nuwe pont opgerig. Die donkies en muile wat die pont getrek het, is met ‘n trekker vervang en later is ‘n paraffien-enjin daarvoor gebruik.  Die pont was o.a. bedryf deur ‘n knorrige man, admiraal Botha, en ‘n assistent wat moes help met die laaiwerk.  Van sonop tot sononder  ( 6 tot 6) was die pont oop, maar as Admiraal Botha etenstyd het of besluit het om vroeg huis toe te gaan, moes almal maar geduldig wag tot hy klaar geëet het of  die volgende dag weer terugkeer.

1949 word die staaldorp Vanderbijl[park  gestig en die pont raak nou baie besiger, veral met die dokters en hospitaal wat nou daar opgerig word.

1954 word Sasolburg gestig en nou kon die pont nie meer die verkeer hanteer nie. As die pont gesluit was, moes die mense agter-om ry oor Vereeniging se ou staalbrug. Daar moes betyds beplan word .

Mnr  Michael Fivaz het ‘n plan gemaak toe sy eie baba gebore moes word, hy het eenvoudig  Transvaalkant toe geswem en die dokter met ‘n skuitjie oor die rivier geroei anders was die dokter te laat vir die bevalling.

Skuitjies het die mense heen en weer oor die rivier geneem.  ‘n toeter of ‘n harde fluit het die roeiers laat weet daar is ‘n reisiger. Die motor of fiets  was dan sommer daar langs die oewer gelaat tot hulle kon terugkeer.

PONTOONBRUG

‘n Brug moes dringend oor die rivier gebou word.  Die inwoners van Sasolburg het meestal hulle inkopies in Vanderbijlp[ark gedoen en die pont was heeltemal onvoldoende.

Terwyl die brug in aanbou was, het die weermag ‘n tydelike militêre pontoonbrug ,Baileybrug, opgerig om die verkeer te help dra.  Dit was ‘n staalbrug met ‘n houtdek. Sasolwerkers en inwoners moes ‘n permit verkry om van hierdie brug gebruik te maak.  Die staalblad waar die pontoonbrug  geanker was, is vandag nog daar by Abrahamsrus terwyl die pont se staalspore ook nog by Stonehaven se oewer is

BADDRIFBRUG.

1956 is die Baddrifbrug voltooi, met ‘n enkelbaan in beide rigtings. Die Baddrifbrug is tans nog steeds in gebruik as alternatiewe roete tussen Vanderbijlpark en Sasolburg. Die pont is verkoop aan ‘n maatskappy in Rhodesië wat dit gebruik het het tydens die bou van die Kariba-dam.

GOLDEN HIGHWAY BRUG / R57 BRUG

Gereelde oorstromings en vloede is kenmerkerk van die Vaalrivier. Laagwaterbrûe word gereeld oorstroom. Na ‘n groot vloed in 1975 toe die hyskraan wat  gebruik was om die pontoonbrug te bou weggespoel het, is daar begin met die bou van nuwe brûe hier langs die Baddriftbrug. Die ouer inwoners onthou nog die plofslae en trillings wat die huise se mure laat kraak het tydens die bou van die nuwe brûe.

Die Golden Highway Brug of ook bekend as die R57 Brug is vroeg in die 1980’s voltooi en bestaan uit 2 dubbelbaan brûe wat sedertdien die snelweg-verkeer tussen die Vrystaat en die Transvaal/ Gauteng dra.

Bronne

Vaalweekblad Legendes en Ellendes uit die Vaal

Vereeniging Geskiedenis

Vanderbijlpark Geskiedenis

www.monument-sa.co.za

Artikel in ONS STORIEWA 2025 deur Kobie Ströh

Maak 'n opvolg-bydrae