Krugersdorp
Historiese boom (Pretoriusboom)
Key West Mall
OU HISTORIESE BOOM By Key West Inkopiesentrum
(Hv Paardekraalstraat en Viljoenstraat)
PAARDEKRAAL / VAAL MARTIENS PRETORIUS
Die Oorspronklike eienaar van die plaas Paardeplaats (Paardekraal) was Andries Pretorius, die held van Bloedrivier
Andries Pretorius het gewoon op die plaas Grootplaats, waar Hartebeespoortdam later gebou sal word.
Sy plaas, Paardeplaats (Perdeplaas), het hy gebruik vir sy perdeteelt onder toesig van Marthinus Petrus Wilhelmus Pretrorius , bekend as Vaal Martiens.
Na Andries Pretorius sterf in 1855, erf Vaal Martiens se vrou, ‘n dogter van Andries Pretorius, die plaas, Paardeplaats.
Die plaas Paardekraal (Paardeplaats) word op Vaal Martiens Pretorius se naam geregistreer.
Vaal Martiens het die dam gebou as suipplek vir hulle perdeboerdery.
Hy het sy perdestalle hier gebou en bome aangeplant om skadu te verskaf.
Gou het hierdie terrein met sy vars water en welkome skadu ‘n uitspanplek vir ossewaens en perderuiters geword, veral gedurende feesgeleenthede soos Geloftefees.
Die perde kon rus en wei terwyl burgers en o.a. Paul Kruger vergaderings by Paardekraal gehou het.
Tydens die ABO was hierdie ook ‘n gereelde uitspanplek met stalle vir die perde.
Een van die ou oorspronklike bome, nog deur Pretorius aangeplant, word steeds bewaar as herinnering aan hierdie belangrike deel van Krugersdorp en Suid-Afrika se ryke geskiedenis.
KEY WEST
1 Oktober 2000 open ‘n groot inkopiesentrum, Key West, sy deure. Gebou op ‘n gedeelte van hierdie historiese uitspanplek oorkant Paardekraal monument.
Groot sorg word geneem om ‘n gedeelte van die park, Pretoriuspark, en die dam, Monumentdam, te behou.
Die ou historiese akkerboom ( Cork Tree) word met groot sorg en onkostes deur Key West se bestuur bewaar. Die boom is omhein om skade te beperk en jaarliks word hierdie boom gespuit om goggas en plae weg te hou. Die wortelstelsel word spesiaal gevoed om hierdie kleinood so lank as moontlik te bewaar.
Dankie vir toegewyde mense wat hierdie versorging en beskerming hanteer.
Ongelukkig is daar geen bordjie aangebring ter verduideliking van die geskiedkundige waarde van hierdie ou historiese boom wat as stille getuie van baie jare se belewenisse rustig voortgroei en sy skadu steeds gooi so langs ‘n besige inkopiesentrum.
As bome maar kon praat !
Bronne: Internet. Facebook. Heritage Portal. Krugersdorp 100 1887 – 1987
FAK Kultuurnetwerk Krugersdorp Geskiedenistoere 2022, 2024
Chris Smith Key West
Foto’s: Internet, Facebook
Gys Ströh snr Sept 2022, Maart 2024





