HEIDELBERG DE RUST
DE RUST BEZUIDENHOUT-Woning
Hierdie juweel van Heidelberg is reeds opgerig in 1906 .
Die stewige asemrowende ou Victoriaanse woning staan bekend as De Rust en is nog al die jare in dieselfde Bezuidenhout-familie se besit.
Opgerig deur die invloedryke en welvarende Bezuidenhouts van Bezuidenhout Vallei in Johannesburg. Hierdie spogwoning was gereeld besoek deur groot staatsmanne.
Die toekoms van hierdie praghuis is onseker. In die huidige ekonomiese tye raak dit al hoe moeiliker om hierdie huis te beskerm en te onderhou. Vir ‘n aantal jare is De Rust as ‘n gastehuis aangewend, maar isolasietyd het hier ook sy tol geëis.
Hierdie juweel is 2 km buite Heidelberg geleë met die Suikerbosrand op die horison. Die De Rust-woning het sy ou spoggerige Victoriaanse voorkoms behou.



DIE BEZUIDENHOUT-FAMILIE
BEZUIDENHOUTVALLEI JOHANNESBURG (Bez Valley)
Bezuidenhout Park / Johannesburg / Bezuidenhout Plaashuis 1863/ Oorlogsmonument / Bezuidenhout Familie Begraafplaas – Monumente, Gedenktekens en Interessanthede in Suid Afrika
Frederick Johannes BEZUIDENHOUT Generasie 1
Frederick Jacobus BEZUIDENHOUT ( Generasie 1) (1825-1900) vertrek vanaf Nederland na Suid-Afrika op ‘n verkenningsreis.
Kort daarna vertrek hy op ‘n verkenningstog na die noorde. 1861 vestig hy hom op die plaas Doornfontein , verkry vanaf sy skoonpa Barend Christiaan Viljoen ( 1807-1859) en sy vrou Judith Cornelia Theresa (Booysen) Viljoen (1807-1861). Frederick J Bezuidenhout is een van die eerste pioniers in hierdie area. Hy besit die plase Braamfontein, Doornfontein, Turffontein, Bezuidenhoutvallei en Judith Parlour. Doornfontein was een van die plase waarop die toekomstige Johannesburg sou ontstaan.
Frederick J Bezuidenhout was getroud met Judith Cornelia Ethresia Viljoen (1831-1904), die oorspronklike eienaar van Doornfontein se dogter.
Die egpaar het 7 kinders gehad
1. Frederick Jacobus 1851-1924 Begrawe De Rust
2. Barend Christiaan 1859-1925 Begrawe Bez Valley
3. Jacomina Hendrika Johanna (Meyer) 1961-1927 Heidelberg Kampbegraafplaas
4. Willem Wouter Jacobus Johannes 1869-1946 Heidelberg Kloof Begraafplaas
5. Johanna Susanna Frederika (Gouws)
6. Judith Cornelia Etresia (Grobler)
7. Maria Magdalena (Muller)
8.
1886 is goud in hierdie area ontdek . Stadig maar seker het die Bezuidenhout-erfgename stuk-vir-stuk van hulle grond begin verkoop.
Een van Frederick se seuns, Willem Bezuidenhout het in die plaashuis in Bez Valley gewoon tot ongeveer 1950.
Maart 1949 het Willem 133 hektaar aan die stadsraad van Johannesburg geskenk met die voorwaardes: Dit moet in ‘n park met die naam Bezuidenhout Park ontwikkel word. Die plaashuis en begraafplaas moet ook onderhou word deur die Stadsraad.
DE RUST-HEIDELBERG
Frederick Johannes BEZUIDENHOUT Generasie 2
Frederick Jacobus Bezuidenhout (2de generasie) , 1851-1924, erf die plase Doornfontein en Braamfontein wat later saam met Langlaagte en Elansfontein geproklameer is as Johannesburg. Sy woning was op die plek waar die huidige Ponte Gebou in Johannesburg is.
Voor die ABO verhuis Frederik J Bezuidenhout na ‘n plaas naby Standerton. Gedurende die oorlog word die plaas afgebrand en die vrouens en kinders word weggevoer na ‘n konsentrasiekamp
Na die oorlog,1906, trou Fredrick J Bezuidenhout (Generasie 2) met Wilhelmina Christina Johanna Meyer.
Hy koop die plaas Boschfontein (6 morg) net buite Heidelberg.
Frederick Jacobus BEZUIDENHOUT 20 Julie 1851 – 14 Februarie 1924 en sy vrou Wilhelmina Christina Johanna MEYER 29 Augustus 1853 – 1 Januarie 1927 laat die plaasopstal op Boschfontein oprig.
Die spoghuis was uiters luuks teen koste van 6000 pond opgerig. Hulle gedagte was dat dit as ‘n teenvoeter moes vertoon vir die vernederings deur die Britte. Daar word vertel dat hy ‘n klein Buckingham Palace daar wou gehad het.
DIE WOONHUIS
Frederick Jacobus BEZUIDENHOUT en sy vrou Wilhelmina Christina Johanna MEYER het die huis laat ontwerp deur Mattheus Carel August Meischke. Hy het heelwat staatsgeboue in Johannesburg en Pretoria ontwerp soos bv. die Poskantoor in Rissikstraat. Meeste is ongelukkig reeds platgeslaan.
In 1906 bou Johannes S Joubert die huis. Hy was ook die bouer van die Uniegeboue
Frederick J BEZUIDENHOUT het al die boumateriaal vanaf die buiteland ingevoer. Meeste vanuit Engeland, Italië en Amerika.
Die huis beslaan 792 vk meter, groot genoeg vir al hulle 12 kinders.
Daar is minstens 14 vertekke, 6 slaapkamers, ‘n eetkamer, kombuis badkamers en dan tipies van daardie tyd ‘n groot ingangsportaal, spens, mansrookkamer, damesssitkamer en ‘n ontbytkamer.
Die lang gang is 17.6 m lank en 1.8 m breed. Die mosaïek-gangteëls is uit Italië ingevoer. Die ry familieportrette in die gang spreek van ‘n ryke familiegeskiedenis om op trots te wees.
Die plankvloere is van dennehout uit die staat Oregon, Amerika.
Daar is 4 besonderse kaggels gemaak uit rooshout met skoorsteenmantels, fyn afgerond met spieëls en geelkoper.
Kleurvolle loodglasvensters is by die hoofingang en die buitedeur van die mansrookkamer.
Opvallend is die uitsonderlike hoë plafonne van staal.
Die stoep wat reg rondom die huis strek, gee daardie tipiese rustige en landelike atmosfeer. Die stoepdak is kenmerkend versier met Brooky Lace. Die stoepreëling is kunstig van gegote yster uit Glasgow met ‘n houtreëling bo-op.
De Rust was die eerste huis in hierdie deel van ou Transvaal wat elektrisiteit gekry het.
Selfs die badkamer het sy eie ou Viktoriaanse “spa” en ‘n binneshuise rioolstelse wat destyds as vreemd en onhigiënies beskou is. Die eerste spoeltoilet in Heidelberg , die ingevoerde porselein kunstig versier.
1980 is De Rust verklaar as ‘n Nasionale Monument.
















MEUBELS
Die muurpapier en fluweelgordyne ( Martin and Webb Curtains) is in kratte vanaf Engeland ingevoer.
Die meubels en toebehore is uit ‘n katalogus uit Engeland bestel.
Ongelukkig is die oorspronklike meubels deur Bes Liebenberg, Cor Bezuidenhout se vrou, onder die Bezuidenhout kinders verdeel want sy wou liewer moderner meubels in haar huis gehad het.
Selfs die eetgerei was spesiaal vervaardig as presiese replika van dìe wat in Buckingham paleis gebruk is met die Bezuidenhoutfamilie-monogram daarop gegrafeer.

BUITEGEBOUE
Die stalle is omskep in gastekamers.
Die oorspronklike ou sandsteen stoorkamer het ook behoue gebly.

ERFGENAME
FJ Bezuidenhout was een van die pioniers van Heidelberg en hy het diep spore hier getrap. Hy was invloedryk en ten nouste by die gemeenskap betrokke.
Hy voorsien die fondse vir die bou van Volkskool saam met sy broer WWJJ Bezuidenhout en sy swaer CFJ Meyer. Ook skenk hy ‘n klok vir die Klipkerk se toring toe díe herbou moes word in 1909.
De Rust kan ook beskou word as die Huis van die Nasionale Party. Hier het FJ Bezuidenhout en Hertzog die stigting van ‘n nuwe party bespreek en beplan, alhoewel hy self nooit vir ‘n verkiesing gestaan het nie.
Volgens Frederick J Bezuidenhout (2de generasie) se testament sal die oudste seun van elke generasie De Rust erf.
Erfgename:
Frederick Jacobus Bezuidenhout 1871-1944 (3de generasie) x Anna Magdalena Gouws. Begrawe Heidelberg Kloof Begraafplaas
Frederick Jacobus Bezuidenhout 1899-1973 (4de generasie) x Maria Johanna Nolte. Begrawe De Rust
Frederick Jacobus Bezuidenhout 1899-1973 (4de generasie) het net 1 dogter Lydia Bezuidenhout Minnaar x Phillip Minnaar. Tans eienaars van De Rust.







FAMILIEBEGRAAFPLAAS / Boschhoek Plaasbegraafplaas
Grafte wat dateer uit die 1900’s.
Frederick Jacobus BEZUIDENHOUT en sy vrou Wilhelmina Christina Johanna MEYER se laaste rusplek is hier saam met ander familielede.


Bronne: Heidelberg heraut .Heidelberg Heritage Association. Lydia Minnaar
Foto’s: Internet. Gys Ströh Snr (Jan 2025)
Samesteller: Kobie Ströh