Krugersdorp
KILMARNOCK HUIS
Hoek van De Wetstraat en Beginstraat
Dit is onseker wanneer en deur wie hierdie pragtige huis met sy kenmerkende Victoriaanse Toring gebou is. Die huis is wel voor 1897 al gebou.
Pragtige tuine met ‘n stoep rondom die huis is opvallend.
Kilmarnock is ‘n dorp in Skotland, moontlik van daar die naam verkry.
Anglo-Boereoorlog:
Krugersdorp se burgers het die Krugersdorp Kommando gevorm onder bevel van Generaal Jan Kemp.
Krugersdorp Kommando was veral aktief in Wes-Transvaal, met veldslae soos die Slag van Driefontein,Slag van Moedwil, Slag van Vlakfontein, Slag van Roodewal ens.
In die Krugersdorp omgewing het groot en klein veldslae plaasgevind soos die Slag van Dwarsvlei en die Slag van Nooitgedacht.
1900 neem Majoor Generaal Archibald Hunter Krugersdorp oor. Sonder skoot en teenstand van die inwoners masjeer die Britse troepe Krugersdorp ongesteurd binne en hys die Britse vlag.
Magistraat JC Human gee die administrasie van Krugersdorp oor aan die Britte.
Krugersdorp is voortaan onder Britse militere administrasie.
Die Britse Hoofkwartier vestig hulle in die Kilmarnock huis, versterk die klipmure en span doringdraad om. Die toring dien as ‘n gerieflike uitkykpunt.
Krugersdorp was onder krygswet geplaas wat die beweging van mense beperk het. Vergaderings en samekomste was verbode. Permitte was nodig om te reis of na die stasie toe te gaan.
Blokhuise is ook gebou om die inwoners dop te hou. Die blokhuis was beman deur 7 soldate en 4 swartes wat as bediendes en wagte aangewend is.
Die tekort aan noodsaaklikhede en kos in Krugersdorp het die omstandighede binne die dorp haglik gemaak. Meeste inwoners was mynwerkers wat tydens die oorlog nie kon werk nie en groot armoede het geheers in Krugersdorp.
Na die oorlog het baie invloedryke persone (dokters, besigheidsmanne o.a.) in Kilmarnock gewoon. Kilmarnock was een van mees gesogte wonings in Krugersdorp.
2018-2019 het ‘n privaateienaar Kilmarnock gekoop en die huis tot sy vroëre glorie herstel. Tans word dit as ‘n woonhuis gebruik.
Bronne: Internet. Facebook. Heritage Portal. Krugersdorp 100 1887 – 1987
FAK Kultuurnetwerk Krugersdorp Geskiedenistoere 2022
Foto’s: Internet, Facebook. Gys Ströh snr Sept 2022










