Ficksburg / DIE OU MEULE / GUMTREE Mill / sandsteen Meule

FICKSBURG

DIE OU MEULE / GUMTREE Mill

SANDSTEEN IN FICKSBURG

Die dorp Ficksburg word omring deur die mooiste sandsteenformasies.

Ficksburg is gestig op 12 Junie 1867 en vernoem na Generaal Jan Fick, Kommandeur -Generaal van die Republiek van die Oranje-Vrystaat .

Die dorp met van die mooiste sandsteengeboue.

Reeds vanaf die vroeë 1800’s was sandsteen hier rondom Ficksburg blok-vir-blok met die hand uitgekerf.

Die mooiste huise, kerke, sale, stadsale, polisiekantore, hofgeboue, poskantore en nog vele meer wa/is van hierdie sandsteen in die Ficksburg-omgewing gebou.

Sedert 1907, nadat die spoorlyn na Ficksburg voltooi is, is hierdie sandsteenblokke na verskeie plekke in die land vervoer, selfs tot in Kaapstad. Die Uniegeboue in Pretoria is ook van Ficksburg se sandsteen gebou.

Later het moderne masjiene en tegnieke in die steengroewe die ou stadige tradisionele hand-proses vervang, maar die skoonheid en uniekheid van die sandsteen het gelukkig bly voortleef. Onrusbarend is dit ongelukkig een van die tegnieke en vakmanskappe wat besig is om te verdwyn, aangesien daar weinig vakmanne/ kunstenaars oor is wat nog oor hierdie vaardigheid beskik.

In Ficksburg is steeds talle voorbeelde van sandsteengeboue wat al meer as ‘n eeu oud is, elke een vertel ‘n stukkie geskiedenis.

DIE OU MEULE / DIE GUMTREE MILL

Net buite Ficksburg is die klein nedersetting, Gumtree met die ou meule,die Gumtree Mill. Díe meule is die hoogste sandsteengebou in Suid-Afrika, waarskynlik die hoogste in die wêreld. Selfs hoër as die Uniegeboue in Pretoria.

Die ou meule is gebou van plaaslike sandsteen, ‘n voorbeeld van uitstekende vakmanskap. Nog met die oorspronklike sinkdak. Van die mure is ‘n meter dik. Gebou deur Charles Stevens.

Hierdie verlate vyf-verdieping gebou was eens ‘n florerende graanmeule van die SA Graanmeule Maatskappy/ SA Milling Company .

Omring deur reuse bloekombome wat uittroon bo die blokvorm-sandsteengebou laat geen twyfel oor waar die naam Gumtree Mill vandaan kom nie.

Die hoogte van hierdie ou meule is ongeveer die hoogte van ‘n hedendaagse 6-verdieping gebou, spesiaal so hoog gebou om swaartekrag te gebruik om die graanverwerking deur die verskillende prosesse glad te laat vloei. Buite is ‘n staaltrap wat toegang verleen het na al die verdiepings toe.

Ongelukkig is bedrywighede lank gelede hier gestaak en sedertdien het die stropers toegeslaan en al die staalrame van deure en vensters verwyder. Lelike letsels is hier en daar op die sandsteen waar staalstrukture en vervoerbande geheg was, maar steeds is hierdie lewelose gebou ‘n indrukwekkende gesig.

CHARLES STEVENS EN GUMTREE

1875 het ‘n jong Engelsman, Charles Stevens, in Port Elizabeth voet aan wal gesit met net 50 pond in sy sak. Hy het dadelik begin planne maak om besighede in Basoetoland ( tans Lesotho) te vestig en oor ‘n tydperk van sowat 25 jaar het hy suksesvol ‘n reeks handelsentrums in die bergagtige gebiede gevestig en agt plase oor die grens in die Oranje Vrystaat aangekoop.

1907 het die spoorlyn vanaf Bloemfontein hierdie area bereik en Charles Stevens het ‘n gedeelte van een van sy plase aan die SA Spoorweë verkoop om ‘n stasie/sylyn daar op te rig. Hierdie sou baie vinnig ‘n besige en bedrywige plek geword het.

SA Spoorweë het aangebied om die sylyn Stevenage te noem, maar Stevens het voorgestel dat die naam eerder Gumtree moet wees.

Aangrensend aan die sylyn het Charles Stevens hierdie sandsteen meule, Gumtree Mill, gebou en bedryf onder die naam Schuttesdraai Milling Company. Schuttesdraai was ook een van sy plase se name

Die ligging so reg langs die spoor was ideaal vir die vervoer, ontvangs en verspreiding van die graan, later ook ander produkte na en vanaf Basoetoland.’n Maklike aflaaiplek vir steenkool wat as brandstof gebruik is.

Hier by Gumtree het spoedig ‘n hele gemeenskap ontstaan met ‘n skooltjie sedert 1908, huise en ‘n winkeltjie vir die inwoners. Die groeiende gemeenskap het vinnig uitgebrei. Die lewe om die meule was baie bedrywig met ‘n besige sosiale lewe en nuwe uitbreidings.

1916 het die Schuttesdraa Milling Co saamgesmelt met die Bloemfontein Meule van die SA Milling Co en die Orange Free State Milling Co. is gevorm. Die meule was baie suksesvol en het letterlik dag en nag gewerk.

Junie 1919 sterf Charles Stevens en sy aandele word gekoop deur die SA Milling Co. wat daarna vir meer as 40 jaar die eienaars was.

Desember 1958 is die meule gesluit toe die maatskappy ‘n groot moderne meule by Isando naby Kemptonpark opgerig het. Die masjinerie is verkoop en na Salisbury, Rhodesië, toe gestuur en die meule is verkoop aan die Ficksburg Boere Vereniging .

Die Gumtree gemeenskap het daarna begin kwyn, tans is daar net geringe tekens van bedrywighede en ‘n eens-florende gemeenskap wat 50 jaar lank daar bestaan het .

Tans is die meule die eiendom van Mnr TD Smith van Clocolan. Die meule is ‘n gewilde besoekpunt vir fotograwe en besoekers wat die nostalgie van die verlede wil beleef. Dit is ‘n groot jammerte dat die verval so duidelik en onvermydelik is.

Bronne en foto’s: Internet, Facebook, Victoria House, FreeStateTourism

Maak 'n opvolg-bydrae