FICKSBURG
FICKSBURG se STADSAAL
FICK MONUMENT
FICKSBURG EN KOMMANDANT-GENERAAL JAN FICK (Samesteller Kobie Ströh)
Ficksburg is vir sy Kersiefees bekend, maar hierdie dorp het ‘n ryke geskiedenis.
Ficksburg is langs die grens tussen Suid-Afrika en Lesotho geleë.
Die dorp Ficksburg is gebore uit die Basoeto-Oorlog, veral die Tweede Basoeto-oorlog 1865-1866
Die Vrystaatse boere en die Basoeto’s het ‘n stryd gevoer oor grondgebied.
Die Basoeto’s het die grens van Basoetoland ooswaarts verskuif en die boere is herhaaldelik aangeval en beroof. Dit het gelei tot groot botsings tussen die Vrystaatse boere en die Basoeto’s.
Na die Tweede Basoeto-Oorlog is daar besef dat dat die Vrystaat paraat moes wees sodat daar vinnige optrede teen aanvallers en rowers kon wees.
Drie dorpe, Ficksburg, Ladybrand en Wepener, is na die Tweede Basoeto=Oorlog in 1867 as vestings vir hierdie doel gebou in die verowerde Basoeto-gebied. Die inwoners van die dorpe en boere moes aanvalle oor die grens heen en strooptogte probeer verhoed en opvolg.
Ficksburg is gestig 12 Junie 1867.
Die dorp is vernoem na Kommandant-Generaal Johan Izak Jacobus Fick (Jan) 1816-1892.
IJI Fick was Kommandant-Generaal van die Vrystaatse magte tydens die Tweede Basoeto-Oorlog. Sy hooftaak was om die grens tussen die Oranje Vrystaat en Basoetoland te beskerm.
Kommandant-Generaal Jan Fick was die stigter van die dorp Ficksburg.
Hy het op die plaas Paul Ficksberg geboer.
Die Vrystaatse Regering het boere aangemoedig om hulle in die distrik te vestig deur aan hulle land, perde, gewere en ammunisie aan te bied as hulle plase langs die grens vestig. Die plan was om die Basoeto’s te ontmoedig om die grens oor te steek vir rooftogte en om plase aan die brand te steek.
Die Boere in die grensgebiede was in groot gevaar en elke eienaar van plaas of erf moes te alle tye ‘n geweer, 200 koeëls, 5 pond kruit en noodrantsoen vir 10 dae gereed hê vir vinnige optrede teen aanvallers.
STADSAAL
Ficksburg het gegroei en mettertyd het ‘n behoefte aan ‘n stadsaal ontstaan.
‘n Statige sandsteengebou is opgerig, hoeksteen gelê in 1897 en voltooi voor die Anglo-Boereoorlog.
Die argitek en kontrakteur was Walter Malcolm Wilson Donaldson , Voorsitter van die Ficksburg Munisipaliteit. Donaldson het ook die NG Kerk Ficksburg se sandsteenkerk ontwerp.
Die bewoording op die hoeksteen:
GELEGD OP 1 JULIE 1897
DOOR DEN
VOORZITTER DER MUNICIPALITEIT
COMMISSARISSEN
M.I. FOURIE VOORZITTER dr, H.S.
TAYLOR VICEVOORZITTER
H.L. VAN DER MERWE A.P. RADLEY
W. LYON
W. DONALDSON D.J. DE VILLIERS
CONTRACTANT STADSKLERK
Die Stadsaal, ‘n kenmerkende sandsteen-gebou, toon kommerwekkend tekens van verwaardlosing en stukkende vensters.











FICK MONUMENT
Op die ou stadsplein, voor die stadsaal is ‘n monument opreig ter ere van Kommandant-Generaal Fick.
Die oorskot van JIJ Fick en sy vrou is aan die voet van die monument begrawe.(1939)
Die ou Vrystaatwapen pryk bokant ‘n reliëf –beeld van Jan Fick.
Bewoording:
Ter ere van Komdt.-Genl. JIJ Fick
1816-1892
Held van die Basoetoeoorlog 1865-1868
En stigter van die dorp Ficksburg.
Opgerig deur ‘n dankbare publiek
In die Voortrekkerjaar 1939.




