VEREENIGING / VILJOENSDRIF EN DIE GEHARDE TRANSPORTRYERS
(Deur Kobie Stroh)
1878 ontdek George William Stow steenkool in die Vereeniging gebied. Toe Samuel Marks, diamantmagnaat in Kimberley van hierdie vonds hoor, het hy die waarde van hierdie ontdekking besef en hy het dadelik die plase waarop vermoedelik steenkool is, aangekoop. .
Die vraag na brandhout in die Kimberley, diamantmyn-area, was geweldig groot. Die inheemse doringbome en die veld om Kimberley was kaalgestroop. Steenkool sou vinnig in hierdie behoefte kon voorsien.
Sammy Marks het die probleem van die vervoer van steenkool vanaf Vereeniging na Kimberley (300 myl) op ‘n vindingryke manier aangepak.
Goedere en voorraad is tussen die kus en die binneland en tussen dorpe deur transportryers vervoer.
Hierdie geharde en vindingryke manne het goedere oor lang afstande vervoer, die enigste manier van vervoer wat beskikbaar was.
Elke transportryer het sy eie konvooi bymekaar gemaak. Meestal so ses waens, elke wa met sy eie span van 16 osse en ‘n drywer. Aflosspanne osse is deur ‘n konvooileier aangejaag en die transportryer se persoonlike wa, gewoonlik ‘n haftentwa, het die agterhoede gevorm. So ‘n konvooi het gewoonlik ‘n transportryer ‘n stewige klompie geld uit die sak gejaag.
“Dikwels het transportryers saamgestaan om ‘n stoet te vorm, dog gewoonlik was hy alleen op togte wat hom van die kus af geneem het tot by Kimberley of Pretoria of tot die noordelike distribusiesentra soos Marabastad naby Pietersburg of Bamangwato.
Hy moes worstel in die rotsagtige passe tussen die heuwels wat van die laeveld 4000 voet klim na die hoëveld. Hy het te kampe gehad met die swartklei van die vallei, die verraderlikheid van driwwe en die folterende sandvlaktes van die Vrystaat. Behalwe hierdie wedervaringe het hy gewoond geraak aan die tekort aan weiding en water vir sy swoënde osse en die hoë uitspanningskoste wat die boere van hom gevorder het. Hierdie uitspanningsheffings het ‘n groot hap geneem uit die transportryer se winste, veral wanneer sy osse ‘n lang rus nodig gehad het.” (p18-19)
“Marks het ‘n bestendige aantal waens nodig gehad om steenkool na Kimberley te vervoer, en ten einde hulle na die gebied te lok, het hy ‘n aanbod van gratis weiding en water aan transportryers wat op sy eiendomme uitspan, geadverteer. Hy het ‘n tydsbeperking van twee weke bepaal vir elke oorblyf, en die aanbod is gemaak op voorwaarde dat die ryers sy steenkool vervoer suid na die diamantmyne, ‘n tog waarvoor hulle ook vergoeding ontvang het. “
Hierdie reëling was so suksesvol dat daar daagliks tot 200 ossewaens uitgespan het.
Een van die transportryers was ‘n ywerige jong man, Koos de la Rey.
Die transportryers het spore en paaie uitgetrap tussen dorpe.
Hulle uithouvermoë en eensaamheid word deur die myningenieur in 1899 beskryf: “ Die transportryer sit sy tog in die winternagte voort, dit wil sê van sononder tot 11nm wanneer die osse tot 1vm uitgespan word. Die tog word dan van 1vm tot sonop voortgesit en gedurende die dag uitgespan ten einde kos vir die diere te vind. In die somer gaan dit van 3vm tot 10vm en van 3nm tot 10nm. Osse hou tien jaar as daar behoorlik na hulle omgesien word.”(p18)
Die transportryers het van driwwe gebruik gemaak om die riviere te kruis. Die vernaamste drif in hierdie omgewing was Viljoen se drif. Viljoen het ook ‘n pont teen ‘n koste bedryf in die reënseisoen as die rivier vol was.
Die ontdekking van goud aan die Witwatersrand het die vraag na transport drasties laat toeneem. Sodanig dat daar besluit is om ‘n spoorlyn vanaf die suide aan te lê. 1892 is daar ‘n eerste brug oor die Vaalrivier gebou by Viljoensdrif, by die steenkoolmyne waar die verskillende transportpaaie bymekaarkom op pad na die Rand.
“ In Mei daardie jaar (1890) het Kruger sy Volkraad oorreed dat die Vaalrivieroorgang so spoedig moontlik per spoor met die suide verbind moes word. Die destydse voortdurende droogte het aan die einde van 1889 die wêreld kaal gelaat, en daar word vertel dat ongeveer 1000 ossewaens by driwwe in die Vaalrivier gestaan het vanweë die skaarste aan voer.
Die dieper wordende skagte van die goudmyne het die vraag na swaarmasjinerie laat toeneem en die las wat op die primitiewe vervoermiddels geplaas is, het ondraaglik geword.”
“ Die toneel by die drif wanneer die watervlak laag was en by die pont wanneer die rivier afkom, was iets om te aanskou: dubbel- en driedubbelspanne is aangehaak om die swaar vrrag teen die modderwalle van die rivier op te trek. Die geskreeu van die naturelledrywers, die gekreun van die oorlaaide osse, die geklap van swepe vergesel van kragwoorde wat die osse kamtig sou verstaan, was ‘n pandemonium. Sodra die vrag veilig oorkant land, is ‘n koers ingeslaan in die rigting van die bestemming. Die pad het soos ‘n waaier uitgesprei na die Oos-, Sentraal- of Wesrand en die sagte potklei vir die eerste myl was selfs erger as om die rivier oor te steek. Baie van die waens wat dit tog nog toe oorleef het, het byna tot hulle aste vasgeval. Vir die transportryers was dit hartverskeurend, dog hulle het deurgekom” was Leslie se woorde. Met die koms van die ysterperd sou die osse- en muilwaens egter spoedig tot ‘n era behoort.” (p28)
Bron: Uittreksels uit: Vereeniging Suid-Afrika deur Ramon Lewis Leigh (Uitgegee Ter herdenking van 75ste Verjaardag van Vereeniging.1968)



