11 JULIE 1888: EEN VAN DIE WÊRELD SE GROOTSTE DIAMANTMYN TRAGEDIES – KIMBERLEY / Brand in Kimberley Myn

11 JULIE 1888: EEN VAN DIE WÊRELD SE GROOTSTE DIAMANTMYN TRAGEDIES – KIMBERLEY

(Bydrae deur Kobie Ströh)

KIMBERLEY-MYN / DE BEERS MYN

200 mynwerkers sterf in ‘n vernietigende ondergrondse brand

KIMBERLEY DIAMANTMYN

Kimberley se diamantmyn was/is ‘n kombinasie van oopgroefmyn en ondergrondse mynbedrywighede.

Dit was/is een van die mees belangrikste diamantmyne in Suid-Afrika.

Sentraal lê die Groot Kimberley Gat, “The Big Hole”, wat byna ‘n halwe kilometer in deursnee is en 1,6 km in omtrek. Die gat is so 215 meter diep.

Die delf van diamante het hier begin in 1871 en 14 Augustus 1914 is die werksaamhede hier gestaak.

Hierdie myn het 2 722 kg rowwe ongesypte diamante opgelewer ( 14 504 566 Karaat) en sowat 22,5 miljoen ton grond is hier verskuif.

Die Groot Gat is tans ‘n groot toeriste-aantreklikheid. Verskeie van die ou oorspronklike geboue is hierheen verskuif wat tans as uitstalling gebruik word.

GESKIEDENIS VAN DIE KIMBERLEY DIAMANTMYN EN DIE ONTSTAAN VAN DIE DORP KIMBERLEY

Voor diamante in hierdie area ontdek is, was hierdie die plaas Vooruitzicht, die plaas van twee broers, Johannes Nicholas de Beer en Didrik Arnoldus de Beer.

1866 is diamante in hierdie omgewing ontdek. (by Hopetown )

Die ontdekking het gelei tot ‘n diamant-stormloop en hoopvolle prospekteerders het van oral uit die land en uit die wêreld hierheen gestroom.

1871 het die diamantstormloop na Kimberley toe plaasgevind. Binne 2 maande het sowat 30 000 mense hulle op hierdie barre stukkie Karoo-grond bevind, hoopvol op soek na rykdom. Sommige met groot sukses, ander minder gelukkig.

Die twee De Beer-broers moes noodgedwonge hulle plaas verkoop.

Die delwery by Colesberg Koppie (Kimberley) waar die diamantpyp was, was baie intensief.

Delwers het hulle hier in ‘n mynkamp gevestig.

Kosbare diamante van verskillende groottes en kwaliteit is hier in die vlak grond gevind. Spoedig het die delwers gevind dat dieper onder die oppervakte meer en meer diamante in die ryk geel grond gevind kan word. Oornag het delwers van ander gebiede hulle kleims verlaat en hierheen gestroom. Plaasboere, sakemanne, winkeliers en handelaars het spoedig in hulle voetspore gevolg.

‘n Bonte mengelmoes van mense, verskillende nasionaliteite, swart en wit, van orals in die land en u8ithoeke van die wêreld het hier deurmekaar geleef in gehuggies, hutte, tente en tydelike skuilings – sommer so saam met al hulle diere. Honde, muile, donkies, perde, koeie, skape en hoenders het sonder enige beheer rondgedwaal tussen die tente .

Dit was ‘n groot chaos van tente , mense en diere en delwersgate orals waarin daar ywerig gedelf is.

‘n Tekort aan water en sand wat orals inwaai het die lewe nog moeiliker gemaak te midde van die geroesemoes van die voortdurende gekap en grawe op soek na daardie “groot” diamant.

So ‘n groot groep mense op ‘n barre stuk grond met baie min water, wat hulle vullis en riool gestort net waar hulle wou, het gou die paar beskikbare putte wat hulle van water voorsien het, se water erg besoedel.

Meestal was die omstandighede haglik en onhigiënies en spoedig het siektes en epidemies daar uitgebreek.

Die waardevolle grond (4 plase) waarop hulle geleef het, is omgedolwe en ‘n groot gat het ontstaan.

Die mynkamp was eers genoem New Rush, maar later verander na Kimberley, vernoem na John Wodehose, die eerste Earl of Kimberley, die destydse Britse Koloniale Sekretaris.

Tussen 1871 en 1914 het sowat 50 000 myners hier gedelf op soek na diamante. Hulle het die koppie heeltemal weggewerk en die wêreld se grootste gat wat met die hande uitgegrou is, agtergelaat.

1878 is die dorp Kimberley hier gestig

Kimberley het gou berug geword vir sy reputasie van dobbelary, dansende meisies, talle drinkplekke wat rojaal ondersteun is en ongure karakters met oneerbare motiewe wat hier floreer het.

1888 na die groot myntragedie het Cecil John Rhodes en Charles Rudd die myne oorgeneem en ‘n nuwe maatskappy gestig – De Beers Concolidated Mines Ltd-

Die De Beers Mynmaatskappy is nog steeds die heersende Diamant-maatskappy en besit tans 70% van die Suid-Afrikaanse diamantmyne en lewer 40% van die wêreld se ongeslypte diamante.

Toe dit te gevaarlik geraak het om dieper in die groot gat in te grawe, is in die Kimberliet-pyp in geboor tot op ‘n diepte vn 1 097 meter. Hierdie ondergrondse myn was operasioneel tot in 2005.

1914 is hierdie oorspronklike Kimberley Diamantmyn gesluit, een van die rykste diamant-produserende myne in die wêreld. Verskeie ander diamantmyne hier word steeds verder ontgin.

Kimberley- Plek van groot drome.

Sommige het met groot sukses hul drome vervul en hulle fortuin hier gevind.

Vir meeste is hulle drome verpletter en het hulle harde werk en swoeg geen rykdom en sukses opgelewer nie.

DIE GROOT MYNTRAGEDIE

KIMBERLEY

1888

Woensdagaand 11 Julie 1888

Skofruiling tussen dag- en nagskof.

Woensdagaand tussen halfsewe en seweuur is die hysbak weereens met 10 blanke mynwerkers van die 700-voet vlak af opgetrek na die oppervlakte toe. Dit was die einde van hulle dagskof.

Halfpad teen die skag op het die toue skielik gebreek en het die skaghysbak/ mynhok het na benede getuimel. Dit was vreemd want dit was nog nuwe toue wat slegs 8 dae in gebruik was.

Kort na hierdie insident is opgemerk dat rook uit die skag kom en spoedig is alarm gemaak dat daar ‘n brand ondergronds is.

Vermoedelik het die olielampe wat hulle gebruik het in die val gebreek en die brandende olie/paraffien se vlamme het gou versprei na die houtstutte en pilare binne-in die skag.

Die myn was vinnig gevul met rook wat die ligte wat die mynwerkers saamgedra het nutteloos gemaak het. Paniekbevange mynwerkers het saamgedrom en desperaat probeer om die leertjies wat na die na die oppervlakte gelei het, te bereik. Ongelukkig het die vlamme te vinnig versprei en die toue afgebrand.

Baie mynwerkers het versmoor in die digte rook of is eenvoudig papgedruk in die stormloop na moontlike veiligheid.

Die brand het op die 500-voet vlak ontstaan en gou na die res van die myn toe versprei. Twee skagte was vinnig verwoes.

Vinnig is voorbereidings op die oppervlak getref om die sowat 600-700 mans wat ondergronds was te probeer bevry. Daar was dagskofwerkers sowel as nagskofwerkers in die myn op daardie stadium aangesien die skofruiling nog nie voltooi was nie.

Die rook het egter so vinnig digter geword , die brand het te vinnig versprei en redding deur hierdie skag was nie moontlik nie.

Toue en lampe is in gereedheid gebring, reddingswerkers het probeer om af te sak, maar ten spyte van hulle dapper pogings is gou besef dat dit ‘n onmoontlike poging is en dat daar ‘n verwoede brand ondergronds is.

Die skag het dieselfde nag nog inmekaar gestort en kort daarna het die oorblywende skag ook sowat 40 voet ingeval wat alle kommunikasie met die vasgekeerde mynwerkers verbreek het.

Die myn was geventileer deur ‘n opening in die ou myngedeelte en ook deur die Gem Skag aan die oostekant van die myn.

Die Gem Skag was ‘n nou skag in die ou deel van die myn.

Ongelukkig was die Gem Skag nou nog baie nouer agv van ‘n grondverskuiwing wat in daardie deel van die myn plaasgevind het. Dit was wel nog geskik om vars lug in te laat in die myn in.

Die lugopeninge is fyn dopgehou en waaghalsige pogings is aangewend om daarin af te sak in ‘n poging om kontak te maak met van die werkers.

Die meeste mynwerkers was bewus van hierdie Gem Skag en daar was gehoop dat van hulle wel ten spyte van die digte rook hierdie skag sal kan bereik. Die invloei van vars lug het die ingang van hierdie skag skoon gehou van die rook.

Van die meer ervare mynwerkers het wel dieper in die myn ingevlug, na die ouer deel van die myn, weg van die tierende vlamme en intense hitte af.

Van daar af het hulle stadig maar seker hulle pad opwaarts gevind deur nou gangetjies, smal leertjies en man-gate. Die verstikkende rook, die hitte, die stank van verbrande en versmoorde lyke wat plek-plek die weg versper het was ondraaglik.

Een vir een het o.a. Harry Paul en ‘n paar mynwerkers stadig na die smal skeur gevorder waar daar ‘n moontlike kans op ontsnapping sou wees.

Groot was die verligting op die oppervlak toe 7 uitgeputte mans so een na die ander deur die nou opening van Gem Skag begin kruip. Verligting en hoop by die reddingswerkers want nou weet hulle verseker daardie roete na veiligheid is oop.

Reddingspogings is nou met hernude ywer aangepak en talle dapper pogings het baie myners gered. Die gesigte wat hierdie reddingswerkers en oorlewendes moes aanskou was skrikwekkend. In sommige gevalle was die gange so vol dooie liggame gepak dat hulle dinamiet moes gebruik om dit oop te kry.

Twee-en-veertig blanke mynwerkers en 441 swart mynwerkers is in die daaropvolgende dae gered. Sommige van hulle moes uitgelei word want hulle was verslae en versteen van angs en ontberings. Die oorlewendes se lewens is genadiglik gered deur die vars lug wat deur die Gem Skag binnegestroom het.

‘n Paar dae later is ‘n paar manne stadig en versigtig in die myn laat afsak, onder andere Kaptein Hambley, assistant-myninspekteur. Daar is gereël dat hulle onophoudelik ‘n klok moes lui om te verseker dat die giftige gasse hulle nie onverhoeds oorval nie. Die personeel op die oppervlakte sou dadelik hulle optrek sodra die klok ophou lui.

13 Julie 1888 is alle reddingspogings gestop om verdere lewensverlies te voorkom. Geen verdere lyke kon meer in die Gem Skag gevind word nie. baie mynwerkers is vir altyd begrawe onder tonne grond en rotse.

Meer as 200 mynwerkers het in hierdie mynongeluk omgekom ( 24 blank. 178 swart). Verskeie heldedade van dapper pogings om ander te red het daardie dag en nag plaasgevind.

Die rook van brandende hout, paraffien en dinamiet wat onder in die myn geberg was, het ‘n dodelike gas en rookwalm gevorm wat tot die versmoring van die meeste gelei het. Van die lyke kon verwyder word, sommiges kon uitgeken word, maar meeste is vir altyd die onder die puin begrawe.

ONDERSOEK NA MOONTLIKE OORSAAK VAN DIE BRAND

ARGUS ANNUAL 1889 p.470

The disaster at De Beers

Hierdie verslag gee ‘n heel ander perspektief oor die oorsaak van hierdie mynramp.

Ongelukkig het daar nie een van die naby-betrokkenes oorleef om die ware gebeure te bevestig nie.

Argus Annual berig dat daar 11 Julie 1888 , 67 blanke en 625 swart werkers ondergronds in die De Beer’s Myn was.

‘n Brand het ontstaan in een van die skagte wat gelei het tot die dood van 24 blankes en 178 swartes.

‘n Kommitee is aangestel om die oorsaak van die brand vas te stel.

Hulle het ‘n kort beskrywing van die myn gegee en daarop gewys dat daar nie ‘n ontsnaproete uit die myn was nie aangesien daar ‘n blokkasie was in die alternatiewe skag.

Die kommitee het ‘n kort verslag van die gebeure gegee:

Die blanke werkers het bymekaar gekom in Skag 1, ten volle bewus daarvan dat Skag 2 buite weking is.

Daar het hulle herhaaldelik seine na die skaghysbak gestuur om op te kom om hulle van onder uit die myn uit te vervoer.

Die skaghysbak was onder op die 600 vlak.

Vir 20 minute was daar geen reaksie nie, die hysbak het op die 600 vlak gebly.

Die hysbakoperateur het blykbaar die rook in die skag gesien en was te bang om die skaghysbak op te trek.

Eers na 20 minute kry hy opdrag van sy seniors om op te trek, maar dit was reeds te laat.

Die kabels was reeds rooiwarm en 30 voet verder het die toue gebreek en die skaghysbak met 3 manne daarin het teruggeval.

Rook en vlamme het nou die manne teruggedryf, hulle het na die oostekant van die myn gevlug, maar vir baie was dit te laat. Hulle het versmoor in die digte rook.

Meeste swart werkers was aan die westekant van die myn.

Paniek het onder hulle uitgebreek .

600 vlak en hoër was toe onder digte rook.

Hulle het met die leertjies probeer dieper afgaan toe hul besef Friggin’s Skag was aan die brand.

Die rook het ook baie van hulle oorval en laat versmoor, sommige op die 600 vlak, ander op of naby die leertjies. Later is 100 lyke daar gevind.

Die werkers aan die oostekant van die myn het ‘n beter kans op oorlewing gehad.

OORSAAK VAN DIE BRAND:

Die kommissie kon nie die oorsprong van die brand verseker bepaal nie.

Hulle bevinding was daar beslis agterlosigheid van die swart werkers se kant was.

Die werk in die myn is deur kontrakteurs gedoen.

Die myn was nie orals verlig nie en kontrakteurs was self verantwoordelik vir hulle beligting. Dit het tot gevolg gehad dat daar onvoldoende en swak beligting was.

Die swart mynwerkers het gewoonlik met oop kerse rondbeweeg. Daar was geen regulasies oor die gebruik van kerse onder in die myn nie. Daar was wel toesighouers oor die mynwerkers, maar hulle kon nie orals dophou nie

.

Die nagskofwerkers het ook die gewoonte gehad om vroeër ondergronds te gaan want dit was lekker warm daar. Dan het hulle daar gelê en slaap of gerook terwyl kort kerse wat hulle enige plek staangemaak het by hulle gebrand het.

‘n Ooggetuie het vertel dat die werkers dikwels by Friggin’s Skag weggejaag is. Hulle het daar gelê en slaap terwyl hulle kort kersies orals in die hout ingedruk was.

Ook was daar tydens die ruil van skofte bykans ‘n uur wat daar geen toesig in die myn was nie.

De Beer’s Myn was warm en droog met baie hout ondergronds.

Daar was ook baie vlambare olie en ghries in die skagte.

Die werkers het ook die stoompyp in die Friggin’ Skag met sakke en lappe toegedraai sodat hulle nie so maklik kon brand teen die warm pyp nie.

‘n Kombinasie van nalatigheid van die werkers se kant, die gebrek aan toesig, die hitte, die droë hout , die sakke om die stoompyp was waarskynlik verantwoordelik vir die brand in die myn.

Daar is ernstig aanbeveel dat dat daar in die toekoms met groter sorg omgesien sal moet word na veiligheid.

GEDENKSTEEN

Kimberley kon nooit hierdie tragedie vergeet nie.

Dit bly tot steeds vandag nog een van die grootste diamantmyn ongelukke ter wêreld.

In die Gladstone begraafplaas, Kimberley, is ‘n gedenksteen opgerig ter nagedagtenis aan die meer as 200 mynwerekers wat 11 Julie 1888 in die grootste diamantmyn ongeluk in Kimberley gesterf het.

Ongelukkig kon ons nog nie vasstel of die gedenksteen nog daar is nie, weens vrees vir veiligheid van besoekers.

Bronne:

From: THE DIAMOND MINES OF SOUTH AFRICA. SOME ACCOUNT OF THEIR RISE AND DEVELOPMENT

Kimberley Calls and Recalls on Facebook By Steve Lunderstedt

Encyclopaedia Britannica : This article revised and updated by J.E. Luebering.

Cape Argus 18 July 1888

The diamond mines of SA.

Maak 'n opvolg-bydrae