Stigting van die Gereformeerde Kerk: Seringboom Rustenburg

Stigting van die Gereformeerde Kerk: Seringboom

Rustenburg

Seringboom Doppers

10 Februarie 1859

Stigting van Dopperkerk (Gereformeerde Kerk) :160 jaar gelede gestig onder ń seringboom langs die Hervormde Kerk.

Met volksplanting 1652 het Jan van Riebeeck die Nederlandse kerk en die beginsels van De Gerevoormerde Kerke gevestig, die christelik gereformeerde godsdiens in noue samewerking met Klassis Amsterdam.

Mettertyd en stadig het die beeld en aanslag en leer van die kerk verander in die Kaap en selfs doelbewuste pogings is aangewend om die kerk te verengels. Die houding van die Kaapse Kerk teenoor doe Groot Trek was vyandig en het groot verwydering veroorsaak.

Die Trekkers was verknog aan hulle godsdiens , geweldig ortodoks en het vurig verlang na ‘n eg-gereformeertde predikant. Hy moes” een gereformeerd leeraar” wees en wel  van “de suivere oude Hollandse gerevoormerde Godsdienst.”

Die “afvalligheid” van die Kaapse Kerk, die Gesange wat in die Kaapse Kerk ingevoer is, het ‘n bittere reaksie ontlok en ‘n onoorbrugbare skeiding veroorsaak. ‘n Groep mense wat skeldnaam “Doppers” gekry het kon vanweë hulle ortodoksie hulle nie versoen met die “dwaalweë”  van die Kaapse Kerk nie, alhoewel hulle nog grotendeels aan die Nederduit Gereformeerde Kerk behoort het. Ander het hulle weer heeltemal onttrek aan die Kerk en het verlang na ‘n kerk wat weer suiwer Evangelie sou verkondig, iets wat met die koms van Ds Dirk Postma (1818-1890) van  Holland ‘n werklikheid geword het vir hulle.

“9 Februarie 1859 was daar ‘n groot saamtrek op Rustenburg van diegene wat al jare lank nie met die “dwalinge” van die Kerk kon saamstem nie. ‘n Skaar van tente het die velde oordek. Op 10 Februarie het hulle onder ‘n seringboom vergader. En daar het die herstigting van die Gereformeerde Kerk plaasgevind.”  ‘n Dag later het reeds 310 mense hulle name geteken as lidmate van die Gereformeerde Kerk, Die Dopperkerk.

Bron: Waarom is u lid van die Gereformeerde Kerk? Ds LS Kruger.

 Eeufees boek :

Op 12 Januarie 1859 het 15 persone ‘n skeidingsakte onderteken in die Notule van die

Nederduitsch Hervormde Kerk. Hulle was:

P J W Schutte, D G Kruger, P S Snyman, St. J Kruger, S J P Kruger(Paul Kruger) , P J S Venter, G van der Linden,

P I J Smit, L C Bronkhorst, R Holzhauzen, R J Jansen sr., R J Jansen jr., C R Smit, H J van der Walt,

J A P Joubert

Op 10 Februarie 1859 was ‘n byeenkoms te Rustenburg gehou vir alle belangstellendes

en belanghebbendes. Op die dag het 310 lidmate met hulle kinders hulle verbind tot

die stigting van die Gereformeerde Kerk.

Op 11 Februarie het ds Postma sy intreerede gehou en die verkose kerkraadslede bevestig.

*****

Die kerkraad was volgens B Spoelstra “Die Doppers in Suid Afrika”

Ouderlinge:

P Venter, Ph Snyman, F Robbertse, S J Kruger, Ph Schutte

Diakens:

D G Kruger, H S Stroh (Skriba), L van Wyk, Jurie Bekker, Adriaan Venter

“Die Doppers in Suid Afrika” gee die volgende vanne as Stigterslede:

Du Plessis, Kruger, Robbertse, Van der Walt, Van der Merwe, Venter, De Bruin, Du Preez,

Van Dijk, Malan, Theunissen, De Beer, Erasmus, Jansen van Vuuren, Stroh, Schutte, Eloff,

Van Deventer, Steyn, Labuschagne, Potgieter, Putter, Henning, Grobler, Smit, Coetsee, Van Wyk,

Minnaar, Bekker, Yssel, Horn, de Wet, Du Toit, Pelser, Van der Linde, Holsthuizen, Grundeling,

CoMbrinck, Joubert , Harmse, Havinga, Van Helsdingen, Riekert, Roets, Oosthuizen

******

Gereformeerde kerk  Rustenburg  Wikipedia

Die Gereformeerde Kerk Rustenburg is die oudste gemeente van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) nadat dit in Februarie 1859 die eerste gemeente van dié kerkverband geword het wat ds. Dirk Postma, die grondlegger van die GKSA, in Suid-Afrika gestig het.

Die Seringboom doppers

Die gemeente het tot stand gekom omdat ’n groot gedeelte van die Rustenburgse Voortrekkers en hul nasate ontevrede was met die kerklike toestand wat destyds hier in die Zuid-Afrikaansche Republiek bestaan het. Die Nederduitsch Hervormde Kerk was die enigste Hollandse kerk in die omgewing van die dorpie, wat in 1850 gestig is en sy naam gekry het omdat die inwoners rustiger kon lewe danksy minder aanvalle van inboorlinge. Ds. Dirk van der Hoff was hul predikant.

Die ontevredenes het toe pogings aangewend om van die Christelike Afgeskeidene Gereformeerde Kerk in Nederland ’n predikant te kry wat suiwer in sy leer was. Dit het daartoe aanleiding gegee dat ds. Dirk Postma deur sy Kerk hierheen gestuur is. Hy het, nadat hy op 9 Julie voet aan wal gesit het in Simonstad en ‘n wyle aan die Kaap vertoef het, einde 1858 hier aangekom. Eers was die Hervormde Kerk bereid om hom as leraar van die gemeente Rustenburg te erken en hom sy diens vry te laat uitoefen. Op 10 Januarie 1859, toevallig ook ds. Postma se 41ste verjaardag, is egter op ’n algemene kerkvergadering in Pretoria besluit “dat de Kerk alhier bestaande is de Ned. Hervormde Kerk, die benevens het boek der Psalmen ook het Evangelische Gezangboek bij die Kerk in gebruik als een erkend kerkelijk boek heeft aangenomen, en daarvan bij den openbaren Godsdienst gebruik maakt. Die kerkelijke inrichting, maar ook niets meer, wenscht de vergadering bovengenoemd dat hier zal in stand blijven.”

Met hierdie besluit kon ds. Postma en baie wat van dieselfde sienswyse was, hulle nie vereenselwig nie. Daarop rig 15 manslidmate ’n skrywe, gedateer 11 Januarie 1859, aan die bogenoemde kerkvergadering dat hulle uit die kerkgemeenskap van die Hervormde Kerk tree en as ’n Gereformeerde Kerk wens te bestaan, “overeenkomstig de leer, tucht en dienst der vaderen, zooals die zich te Dordrecht in de jaren 1618 en 1619 hebben geopenbaard in hunne Nationale Synode”.

Daar is toe besluit om op 10 Februarie 1859 ’n algemene vergadering te hou van diegene wat hulle beswaard teen die Ned. Herv. Kerk gevoel het. Omdat die kerkgebou van die Ned. Herv. Kerk op Rustenburg, hoewel eers deur ds. Van der Hoff vir die vergadering afgestaan, later geweier is, en hier geen ander geskikte gebou was nie, het die mense op die ooreengekome datum onder ’n groot seringboom vergader, wat ongelukkig in later jare afgekap is, maar waarvan die boomstomp tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar is. Meer as 300 mense het hul naam opgegee as lidmate van die nuwe gemeente. Toe hulle op die 11de weer bymekaarkom, het ds. Postma plegtig verklaar “de bediening van Herder en Leeraar op te nemen in den Naam en Kracht des Heeren”. Ouderlinge en diakens is toe gekies en bevestig. Op die stigting van die gemeente Rustenburg het spoedig dié van die gemeentes Pretoria en Potchefstroom gevolg.

*******

Wat het geword van die seringboom waaronder die Gereformeerde Kerk op hierdie en die volgende dag in 1859 op Rustenburg gestig is?

Andries Coetsee, wat GK Rustenburg se geskiedenis navors, haal br. S.W. Vercuiel soos volg aan:

Op 30 September 1934 het ’n stormwind die ou seringboom omgewaai. Die stam is egter mooi bewaar deur oom Willie van Velden, die destydse eienaar van die boom en erf. Hy het die stam met sement bedek en ’n mooi gedenkplaat met paslike bewoording daarop aangebring.

In Februarie 1947 het die S.A. Historiese Monumentekommissie hierdie boomstam tot historiese monument verklaar en is ’n tweede gedenkplaat ook met paslike bewoording daarop aangebring.

In Maart 1959 tydens die eeufees van die Gereformeerde Kerk in S.A. het groot getalle feesgangers uit alle dele van S.A. sowel as oorsese lande by hierdie boomstam besoek afgelê.

Onder hierdie groot getalle besoekers was ook dr. Hendrik Verwoerd en sy vrou, Betsie, destydse eersteministerspaar van die Unie van S.A. Dr. Verwoerd was ’n spreker by die feesverrigtinge.

Dit is dan ook die enigste kerk ter wêreld wat gestig is in die skaduwee van ’n mak seringboom. Die stigtingsvergadering in 1859 is by hierdie boom gehou omdat die kerkraad van die Nederduits Hervormde kerk geweier het om hulle kerkgebou aan die 311 “Dopper Rebelle lidmate” beskikbaar te stel, hoewel ds. Dirk van der Hoff van te vore goedkeuring tot die gebruik van die kerkgebou verleen het.

Die geskiedkundig belangrike Hervormde kerk op die foto, straatop van die seringboom af, is in 1950 gesloop, en die ewe geskiedkundige ou Dopperkerk op Rustenburg 11 jaar later.

Pos deur Mornè van Rooyen in My Dopperdagboek (Februarie 2023)

9 Februarie 1859 | Ossewaens kom Rustenburg binnegerol

In die Republikeinse dae, skryf prof. Bouke Spoelstra in Die Doppers in Suid-Afrika 1760–1899, het ‘n ouderling, diaken, kommandant en veldkornet die wense van die „publiek” in sy wyk of distrik verteenwoordig. Die afskeidingsverklaring van die vyftien man in Pretoria op 12 Januarie 1859 was ‘n daad namens die „publiek” wat hulle verteenwoordig het. Op weg van Pretoria na Rustenburg is hulle daarom met entoesiasme deur hulle ondersteuners ontvang.

Teen 9 Februarie het die waens Rustenburg binnegerol. Die dorp is plotseling vergroot „met wagens en tenten, niet om kermis, maar om Kerk te houden . . .” Onder die mense het blydskap en verwagting geheers. Hoewel tekens van openlike en geheime teenstand aan die horison verskyn het, het ds. Dirk van der Hoff (predikant van die Hervormde Kerk) nog steeds met ds. Dirk Postma vriendelik omgegaan en vir hom laat preek.

‘n Dag vóór die bestemde samekoms het hy egter onverwags berig dat die kerkgebou nie vir die Gereformeerdes beskikbaar sou wees nie. Dit het Postma se vertroue in Van der Hoff onherroeplik geskok. Gevolglik is waens op die late uur saamgetrek, ‘n tentjie vir die oues van dae ingerig en ‘n tafeltjie vir Postma reggesit. Die weer het gedreig, maar hulle het opgemerk „dat God ons al die dagen de wolken gaf tot bescherming tegen de hitte der zon . . . zonder dat de regen hinderde”. Onder die groot getal belangstellendes is selfs Proes, die staatsekretaris, opgemerk.

Op 10 Februarie het Postma aan die aanwesiges die erns van hulle onderneming voorgehou en hulle opgeroep om hulle in die gewete voor God te verantwoord. Meer as 300 volwassenes het nie ‘n oomblik gehuiwer nie en hulle tot lidmate van ‘n nuwe kerk laat inskrywe, ‘n getal wat binne die volgende weke verdubbel het. Daar was selfs ‘n dertigtal uit elk van die distrikte Pretoria en Mooirivier teenwoordig.

‘n Oorsigtelike vergelyking van die familiename van die stigterslede toon dat die Du Plessis’s meer as twee maal soveel was as die Krugers, onder wie kmdt. Gert Kruger nie verskyn nie. In getalsterkte volg die Robbertses, Van der Walts, Van der Merwes, Venters, De Bruins, Du Preezs, Van Dijks, Malans, Theunissens, De Beers, Erasmusse en Jansen van Vuurens. Hierna volg Stroh, Schutte, Eloff, Van Deventer, Steyn, Labuschagne, Potgieter, Putter, Henning, Grobler, Smit, Coetsee, Van Wyk, Minnaar en Bekker.

Enkele families voer die vanne Yssel, Horn, De Wet, Du Toit, Pelser, Van der Linde, Holsthuizen, Grundeling, Combrinck, Joubert, Harmse, Havinga, Van Helsdingen, Riekert, Roets en Oosthuizen.

Jan Lion Cachet beweer dat sommige nie beswaar teen die Evangeliese Gesange gehad het nie, maar andersins die suiwere leer liefgehad het. Gemeet aan die kenmerkende „Dopper”-vanne van die Noordoostelike Kaapkolonie en Suid-Vrystaat, is ‘n opvallende verskil dadelik merkbaar. Dit toon dat baie Transvaalse Gereformeerdes nie tot die Doppers gereken kan word nie.

Op 11 Februarie is die eerste kerkraad saamgestel met ouderlinge P. Venter, Ph. Snyman, F. Robbertse, S. J. Kruger en Ph. Schutte (Mooirivier) en diakens D. G. Kruger, H. S. Stroh (Skriba), L. van Wyk, Jurie Bekker en Adriaan Venter (Mooirivier).

Die Kerkraad bestaan grotendeels uit die politieke ondersteuners van Stefanus Schoeman, hoewel ‘n getroue ondersteuner van Pretorius soos Ph. Schutte ook opgeneem is. Onder hulle was geen partyskappe nie, maar „vrede, troost en blijdschap . . . Men betuigde nu te genieten wat men zoo dorstend altoos nog te vergeefs gezocht had”.

„De Gereformeerde Kerk in de Z.A. Republiek erkent de Belijdenis des Geloofs der Gereformeerde Kerken in Nederland, den Catechismus on de leerregels der Synode van Dordrecht … als de volledige uitdrukking van haar geloof.” Die Drie Formuliere van Eenheid kom in alles met die Woord van God ooreen en hulle verwerp alles wat daarteen stry. Hulle kerkregering is aangepas by die Dordtse Kerkorde van 1618 en 1619. Hiervan is aan die Ned. Hervormde Kerk en die Owerheid behoor-lik kennis gegee.

So is hulle eie kerklike tuiste duidelik omlyn op die leerstellige basis waarop die eerste kerk in Kaapstad twee eeue tevore ingerig is, terwyl die Dordtse kerkorde hier vir die eerste maal in Suid-Afrika geproklameer word as fondament vir die kerkregering.

Op 24 Februarie aan Krokodilrivier by Jan Booysen het verskeie lede van die Enslingroep hulle by die kerk gevoeg. Postma moes groot kinders doop en die vreugde smaak dat hy „dit land, vroeger eene woeste huilende wildernis, nu mag maken tot een land van Immanuel door zielen aan Hem te wijden”.

Foto’s Oktober 2023 Rustenburg Kultuurnetwerk (FAK) Toer

Maak 'n opvolg-bydrae