Middelburg Karoo Kaapkolonie tot 1910 Kaapprovinsie Oos-Kaap vanaf 1994 Uitspanning Markplein Burgemeesterstuin

Middelburg Kaap is ń pragtige dorp aan die oewer van die Klein-Brakrivier. Gestig 1852. Sy naam verkry vanweë sy ligging. In die middel. Halfpad tussen Port Elizabeth en Bloemfontein en ligging tussen dorpe soos Cradock, Colesberg en Richmond.

Die Burgemeesterstuin

Hierdie park is die area tussen Loopstraat, Markstraat, Murraystraat en Van Reenenstraat.

Die NG kerk se eerste kerkgebou die “Noodkerk” was hier op die hoek van Loopstraat en Van Reenenstraat. Gereformeerde Kerk, Metodiste Kerk en Stadsaal was ook aangrensend.

Hierdie area was eerste bekend as Die Uitspanning want dit was hier waar die ou boere hulle ossewaens uitgespan het, gekamp het en van hulle produkte verkoop het. Hier het hulle gebly vir die duur van die “Grootkerk” wat nagmaal, kinderdiens, bidure, katkisering, kerkraadsvergadering, doop, dankseggingsdiens ens ingesluit het. Hulle het dan ook hulle besigheid gedoen voor hulle teruggekeer het plase toe.

Die jongmense het hierdie tyd saam vermaak gevind en vriendskappe gesmee wat dikwels tot huwelike gelei het.

Later het die plaasmense tuishuise begin bou en al hoe minder waens is hier uitgespan. Baie produkte is nou hier verkoop en besighede ontstaan om die area wat nou Die Markplein genoem word.

Huidig is dit bekend as die Burgemeesterstuin.

In hierdie goedversorgde tuin vind ons:

Burgermonument

Obelisk opgerig in 1929 ter herinnering aan ABO en die 29(sommige bronne 19) burgers wat gesterf het tydens die oorlog. Sien Stoelmonument:

Muur van herinnering

Muur wat opgerig ter herinnering aan die wat gesneuwel het en deelgeneem het aan die ABO, WWI, WWII en die Bosoorlog met die boodskap dat hulle nooit vergeet sal word nie.

Die ou Waterpomp

Water is met oop vore gelei na die erwe en water vir huishoudelike gebruik is hier uit geskep. Ongelukkig het varke, hoenders, ganse en selfs volstruise in strate rondgeloop en die water vuil gemaak. Bediendes het hul klere in die vore gewas. 1857 het die kommisaris beveel dat alle rondloperdiere wat in watervore gevind word, van kant gemaak moes word en klerewas in vore is verbied. 4 Maart 1869 het die straatwag oa beslag gelê op klere wat swart vrouens in vore gewas het.Vir drinkwater het mense putte gegrawe in hulle erwe en vir diegene wat nie putte gehad het nie, was daar ń put op die Markplein. 1887 het Koningin Victoria ń handpomp geskenk wat toe op die Markplein gebruik is. Dit was tydens haar goue Jubileum jaar toe sy 50 jaar geregeer het. Die handpomp is tot in 1915 gebruik toe boorgate gesink is en ń waterskema begin is. Die handpomp is nog in die Burgemeesterstuin.

Die Stoomroller

Die stoomroller is in 1938 aangekoop om strate te bou en voor te berei.

ń Arbeider het voor die roller klippe uit die pad gegooi en kort kort ń paar grawe steenkool ingegooi. Die stoomroller het vorentoe en agtertoe geloop die hele dag lank en veral die seuns gefassineer wat graag saam heen en weer geloop het.

Later is die stoomroller nie meer gebruik nie want daar is beweer dat hy te swaar was en hobbeltjies veroorsaak het, veral by die hoeke waar hy moes terugry. Die stoomroller is ook mooi bewaar.

Bron: Middelburg Hede en Verlede deur HB Coetzee , Internet

Fotos: Gys Ströh snr. (Gysbertus Johannes Ströh )Januarie 2020

Maak 'n opvolg-bydrae