Leeudoringstad Spoorwegramp/ Dinamiet ontploffing

17 Julie 1932

Leeudoringstad

Spoorwegramp/ Dinamiet ontploffing

Leeudoringstad

Die dorpie Leeudoringstad is gestig op die plaas Leeuwdoorns van Mnr A Strachan.1920 is die dorp geproklameer.

Die dorp is geleë langs die hoofspoorlyn tussen Kaapstad en Johannesburg en het sy ontstaan hoofsaaklik te danke aan die spoorwegstasie en die landbouaktiwiteit in díe area.

Die plaas Louwpan

Net buite Leeudoringstad, sowat 1km weg, is die plaas Louwpan van Stoffel en Lettie Strydom.Die treinspoor volg die noordelike grens van die plaas.Die pad van Leeudoringstad na Makwassie loop parallel met die treinspoor.Die plaashuis van die Strydoms is ongeveer 150 m van die treinspoor af.

Die Dinamiet trein

Gereeld elke Vrydag het ń spesiale goederetrein van Kaapstad af vertrek na Johannesburg toe.Die houttrokke, eenders gemaak, wit geverf met ń groot rooi kruis op die sykante duidelik sigbaar. Die rooi kruis waarsku dat hierdie trokke ń baie gevaarlike vrag vervoer vanaf die De Beers-Plofstoffabriek in Somerset-Wes na die goudmyne in die Witwatersrand. Dinamiet, dinamietkerse, lont en slagdoppies, alles stewig verpak in kissies is die vrag.

Die groot ontploffing17 Julie 1932

Sondag 17 Julie nader hierdie buitengewone dinamiettrein met 34 wit trokke, gelaai met 10 685 kissies. Direk agter die lokomotief en die kolewa is 6 gewone trokke gelaai met kunsmis en nog 2 trokke met appels. Daarna volg die dinamiettrokke met die kondukteurswa direk agter hulle.Soos gebruiklik stop die trein op Bloemhof waar alles nagegaan word, gevoel word of wielbuste nie warm is nie en ń nuwe span bemanningslede neem oor. Twee verantwoordelike amptenare voor en een agter.

Op die plaas Louwpan is alles rustig en almal besig met hulle Sondag agtermiddag takies, salig onbewus van die naderende ramp.

Skaars 1km buite die dorp, naby die plaas Louwpan, merk die treindrywer rook op wat vanuit een van die middelste trokke kom. Hy bring dadelik die trein tot stilstand, ongelukkig op Louwpan, maar net toe hy wou uitklim om ondersoek in te stel ruk ń massiewe ontploffing hom onderstebo. Die treindrywer en stoker oorleef wonderbaarlik, hulle ontkoppel die trein en jaag die stasie in om die inwoners van Leeudoringstad te waarsku dat daar nog trokke is wat kan ontplof.

Louwkuil

Die plaashuis en buitegeboue is aan flarde geruk, 5 mense sterf, 11 is ernstig beseer en feitlik alle diere is dood. Die een seuntjie Gideon, 4 jaar oud, se 2 beentjies is vergruis.300 m spoorlyn is tot niet, ń sloot van 30 m oopgeskiet, plekke tot 5 m diep. Wrakstukke lê gesaai, sommige stukke is later 10 km ver van die rampgebied opgetel.Die kondukteur wat vermoedelik aan die slaap geraak het voor die brand ontstaan het, is aan stukke geskiet.

Leeudoringstad

Die dorp is feitlik platgevee. Huise en geboue het ingetuimel, vensters gebreek.Geen gebou was onbeskadig nie en meeste moes herbou word.Van die 200 inwoners is niemand oorlede nie. As die ontploffing minute later was, was die trein by die stasie en die lewensverlies sou ontsettend gewees het.

Oorsaak

ń Brand het ontstaan in die smeringskas van een van die dinamiettrokke, die kas waarbinne die aste gesmeer word. Een van die aste het drooggeloop en die wrywing het ń brand veroorsaak wat boontoe versprei het. Die hitte het die dinamiet laat ontplof, wat gelei het tot eintlik ń reeks ontploffings soos trokke ontplof het. Ooggetuies het getuig dat hulle wel vonke sien opspat het onder die as van die tweede dinamiettrok toe die trein by hulle verby gegaan het. Hulle het probeer om die kondukteur se aandag te trek, maar was onsuksesvol.

Begrafnis

Die begrafnisdiens is buite die kerk gehou aangesien die gebou te bouvallig was om te gebruik. Ks

Bronne en fotos: Internet

Maak 'n opvolg-bydrae