Kruger Wildtuin / Kruger Nasionale Park / Crooks Corner

Crooks Corner

Verre Noord Streek Nasionale Krugerwildtuin.

Driehoekige stukkie niemandsland aangrensend Suid Afrika, Zimbabwe en Mosambiek was vroeër die skuilplek vir menige voortvlugtende of krimineel.

Crooks Corner

S22 25.309 E31 18.326

Verre Noord Streek Nasionale Krugerwildtuin.

In herinnering aan Bvekenya en sy wilde vriende wat die Ivoor Roete vanaf 19 September 1886 – 2 Junie 1962 gevolg het. (Deur Kobie Ströh)

Hierdie driehoekige stukkie niemandsland aangrensend aan Suid Afrika, Zimbabwe en Mosambiek was vroeër die skuilplek vir menige voortvlugtende of krimineel.

Hierdie gebied het groot jaggeleenthede gebied met reuse troppe olifante in Mosambiek en Rhodesië. Die gebied het ook onbeperkte geleenthede gebied vir die werwing van onwettige arbeid vir die Witwatersrand se goudvelde bekend as “Blackbirding”. Die gebied het gou bekend geword as “Crooks Corner” agv die ongure karakters wat hier geskuil en gewoon het. Stropers, smokkelaars, diewe, vlugtelinge en moordenaars het hier geskuil. Die grootste aantrekkingskrag was natuurlik die gerief van die internasionale grense. Afhangende van wie hom wou arresteer, kon ‘n skurk die gereg ontwyk deur na ‘n buurland toe te vlug.

Die “hoofstad” van Crooks Corner was geleë op ‘n 500 voet hoë rif. Daar was die beroemde algemene handelaarswinkel met die naam Makuleke, vernoem na die Shangaan hoofman op wie se grond die nedersetting gebou was in 1910, en was ‘n florerende besigheid wat ivoor veral geruil het vir kos, drank en ammunisie.

‘n Hele paar berugte karakters het hier baie bekend geword soos bv Mortimer Ash, bekend as Morty. Hy was olifantjagter en uiteindelik uit Rhodesië en Mosambiek verban. Hy het sy onwettige jagtogte voortgesit tot in die laat 1920’s. Hy en sy jagmaat Cecil Barnard (ook bekend as Bvekenya) is nooit in hegtenis geneem nie danksy ‘n stelsel van tromme wat deur die inheemse bevolking geslaan is wanneer ookal die owerhede in aantog was. Hulle het ook gebruik gemaak van ‘n uitgebreide netwerk van verkenners uit die inheemse bevolking.

‘n Bekende verhaal oor Morty is hoe hy eendag op die spoor was van 2 olifante met groot tande, wat op pad was na die Portugese administratiewe wagpos. Hy wou nie in die amptenare vasloop nie, maar ook nie die 2 olifante verloor nie. Hy stuur toe 2 van sy spoorsnyers na die wagpos toe om die polisie amptenare te oorreed om hulle te volg as hulle Morty Ash wou gevange neem. Die polisiemanne het dadelik die 2 spoorsnyers gevolg – in die teenoorgestelde rigting. Morty het die olifante gevolg tot by die wagpos en hulle in die groentetuin doodgeskiet. Teen die tyd wat die ampenare teruggekeeer het, was die tande reeds verwyder en net die karkasse het daar gelê.

Toe ivoorhandel te riskant geword het, het Morty die Makuleke winkel verkoop en na die Noord-Transvaalse Laeveld verhuis waar hy ‘n reeks handelshuise begin het.

Morty Ash het in sy leeftyd 4 vroue gehad waarvan slegs een Europees was. Hy is in 1982 oorlede en is op sy Europese skoonpa se plaas begrawe en nie op die Ash familieplaas nie.

Bron: Geskiedkundige Terreine van die Kruger Nasionale Park. Ron Hopkins

Pos deur Johan Willemse: As kind was ons in daardie deel van die Wilhdtuin toe my pa vertel dat die deel by die grens, waar drie lande bymekaar kom, bekend is as Crooks Corner. Daar was aanvanklik geen grensdrade nie, en aan die ZAR se kant van die Limpopo was vn duidelik uitkenbare reguit paal geplant wat die grens aangedui het. So honderd of vyf tree stroomop, asook so vyfhonderd tree stroomaf was gate vir die paal wat met plankdeksels waarop grond en bossies was, toegemaak kon word. Die wilddiewe het, na gelang van hul spioene, die paal verskuif om hul kampplek binne enige van die drie lande te plaas soos nodig vir hul veiligheid.

Fotos Desember 2021 Salomi Laubscher

Maak 'n opvolg-bydrae