Kerkenberg Retiefklip

Kerkenberg

Retiefklip

Oliviershoekpas

Retiefspas

Natal

Vanaf 19 Oktober 1837 het Piet Retief se trekgeselskap stuksgewys met die Oliviershoekpas die Drakensberg begin uittrek. Die trekgeselskap het links van die Oudebergspruit teen die berghelling uitgetrek totdat hulle hoog teen die berg ‘n fontein bereik het, naby die huidige Retiefklip, waar hulle uitgespan het. Erasmus Smit het die rant Kerkenberg genoem omdat dit hom aan ‘n kerk of ‘n plek van godsdienstige byeenkomste herinner het. Piet Retief het gedurende dié tyd sy eerste besoek aan koning Dingane afgelê, om oor die moontlikheid om grond vir die Voortrekkers te bekom, te onderhandel. Op sy 57ste verjaarsdag (12 November 1837) het sy dogter, Debora Retief, haar vader se naam en die datum hier op ‘n oorhangende rots met groen verf geskryf. Die ander name wat op dié rots aangetref kan word, is dié van die Bethlehemse kommando wat op 10 Oktober 1899, met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog, die Oliviershoekpas beset het.

Ongeveer 30 km suid van Harrismith, oor die steil Oliviershoekpas by Kerkenberg, is die Retiefklip op ‘n klein plato reg onder ‘n rotsstapel te sien. Die groen geverfde woorde op die Retiefklip kan vandag nog besigtig word, omdat dit deur ‘n glaskas wat later aangebring is, teen wind en weer beskerm word. Met die 1937-Eeufeesviering is ‘n gedenkplaat deur mev. J.C. Preller (‘n kleindogter van Debora Retief) onthul en in 1986 is die Engelse weergawe van die plaat deur studente van die Pretoria Technikon geskenk.

Die Retief-trekgeselskap het tot met 13 November 1837 by Kerkenberg vertoef en toe reg oos getrek tot op die rand van die Drakensberge waar die goeie nuus van Retief se voorspoedige onderhandelinge met Dingane hulle bereik het. Die plek is Blijde Vooruitzicht genoem. Op 14 November 1837 het hulle daarvandaan met die kort, steil Retiefpas die berg af getrek tot in KwaZulu-Natal. Die Retiefpas is in 1977 tot ‘n Nasionale Monument verklaar en die 8 km-roete tot by Sandspruit onder aan die voet van die Drakensberg is met witgekalkte klippe afgebaken. Sommige van die rotse in die omgewing toon selfs nog ossewaspoormerke. (Wikipedia) *****

Pos deur Danie Langner: Desember 16  2018

Kerkenberg is n plek van hoop en afwagting. n Plek van uitsig en drome. Dit is die plek waar Deborah Retief haar pa se naam op sy verjaarsdag met waverf op sandsteen verewig het. Die Voortrekkers was opgewonde en gelukkig by Kerkenberg. Soos wat die wind deur die groot wilgerbome waai is dit asof mens steeds die ou Voortrekkerstemme Prys die Heer met blye galme hoor sing.

Hier kamp die “opkomende geslagte” van die Gelofte reeds dekades op 16 Desember saam met hulle ouers en vriende. Die besoekersboek word vanaf 1950 bygehou, vanjaar al vir 68 jaar! Die boek is n Geloftemonument en Africana in eie reg. Ek en Melanie het vandag persone ontmoet wat as laerskoolkinders in die sestigs en sewentigs die boek geteken het en steeds jaarliks hier kamp. Hulle kom van oral, Kemptonpark, Pretoria, Rustenburg om die Gelofte by Kerkenberg te herdenk. Hulle is hier gewortel.

Die klipstapel, in die vorm van n wawiel, is n groeiende monument as gevolg van almal wat op 16 Desember hulle klip daarop plaas wanneer hulle die Gelofte aflê. In die middel is n bronsplaat met die Gelofte wat koersvas Noordoos in die rigting van Bloedrivier wys.

Dit was n belewenis en n voorreg om saam met families en soveel jong kinders Groot Trek 180 te vier. Kerkenberg is verseker n plek om op 16 Desember te wees.

Maak 'n opvolg-bydrae