Gamtoosvallei Patensie NG Kerk Gamtoosvallei Baviaanskloof Koningin Victoria (Borsbeeld, rotsformasie) Oos-Kaap

Gamtoosvallei

Hierdie ongelooflike pragtige vallei met bewerkte landerye en boorde soos ń mosaiek vorm die toegangspoort na Baviaanskloof. Die naam Gamtoos is waarskynlik afgelei vanaf die Khoi woord wat brullende leeu beteken. Die vroeë Hollanders het die Khoi-Khoi stam wat in die gebied gewoon het die “Gamtousch” genoem. In die vallei is daar 3 klein dorpies, Hankey tuiste van Saartjie Baardman, Loerie en Patensie.

Patensie

Patensie is ń klein dorpie wat gestig is in 1858 en is bekend vir sitrus en groente verbouing. Die eerste lemoene is reeds in 1907 uitgevoer hiervandaan deur ń Mnr. Bean.

Die naam kom vanaf ń Khoi-Khoi woord wat rusplek vir die vee beteken, lêplek vir die beeste.

Aanvanklik was ontwikkeling in hierdie dorpie maar stadig want die grond was alles in privaatbesit.

Die naambordjies na die plase wys duidelik dat hierdie area en die Ferreiras ń ryke geskiedenis deel. In die dorpie is daar sowaar 4 Ferreira strate; Fred Ferreira Straat, Johnny Ferreira Straat, Paul Ferreira Straat en Teddy Ferreira Straat.

Die dorpie is ń gewilde toeriste besoekpunt.

Patensie is feitlik die ingang na die Baviaanskloof en die bekende Hanekam berge troon in verte.

NG Kerk Gamtoosvallei

In Patensie tref ons die kenmerkende kerkgebou aan, die werk van die meesterargitek Hendrik Vermooten (1921-2013). H. Vermooten se onmiskenbare styl van simmetrie en geometrie. Hy het gewerk in die “kerkbou-era” , tyd van vooruitgang en industrialisasie in SA. Hy het baie opdragte voltooi: sale, banke, kantoorgeboue, pastorië en natuurlik kerke. Orals oor die land pryk kerke ontwerp deur H Vermooten. Hy het minstens 144 kerkgeboue ontwerp. Hy het landswyd gewerk en selfs in destydse Suidwes-Afrika, Rhodesië en Kenia. Hy was lang tye weg van sy huis en om sy werk te vergemaklik het hy vir homself ń vliegtuig aangeskaf, aanvanklik ń 2-sitplek, later ń 6-sitplek. H. Vermooten skryf self: “Dit was altyd my strewe om ń gebou so doeltreffend en mooi moontlik te ontwerp, te voldoen aan my kliënt se vereiste, goed toesig te hou en binne sy finansiële perke te bly.”

Baviaanskloof

Sowat 16 km vanaf Patensie in die ooste strek die grondpad wat gebou is tussen 1880 en 1890 deur Thomas Bain deur die Baviaanskloof vir 197 km tot by Willowmore in die weste.

Letterlik ń lang kloof met ten minste 100 laagwaterkruisings. Onontdek en ongerep tussen 2 bergreekse: Kougaberge in die suide en Baviaanskloofberge in die noorde.

Baviaanskloof beteken die Vallei van die Bobbejane (ou Hollands).

Baviaanskloof is ryk aan fauna en wye verskeidenheid flora, die tuiste van baie bobbejane, die hervestigde buffel en bergkwagga en die skaars en sku Kaapse luiperd.

2004 verklaar as ń Wêrelderfenisgebied.

Ryk aan geskiedenis van San Jagters, Steentydperk bewoners en Europese kolonialiste en baie interessante rotstekeninge en artefakte al hier ontdek.

Uitsonderlike en unieke rotsformasies verstom die reisiger soos die lagies en lagies spoelklippe wat vasgesedimenteer is teen die hange. Spoelklippies van moedergesteente wat deur water vervoer is en lyk asof dit neergepak en vasgesement is (Enon -konglomoraat).

Die uitstaande en verstommende rotsformasiesie die borsbeed van Koningin Victoria (Bust of Queen Victoria) is een van die bekendste bakens hier digby Patensie.

Bron: Internet.  Geological Journeys N Norman & G Whitfield

Fotos: Gys Ströh snr Januarie 2020

Maak 'n opvolg-bydrae