Busongeluk Leandra

Tragiese busongeluk

Ongeluk tussen skoolbus en trein

Leandra

Mpumalanga

13 November 1952

13.11.1952 is die skoolbus op pad om skoolkinders van Leslieskool af te laai. Daar is ń nuwe skoolgebou opgerig en die verhuis vanaf die ou gebou na die nuwe gebou en die konsert wat oor 2 dae 15 November gehou gaan word, maak die kinders baie opgewonde.

Die tipiese bus van daardie tyd het net een deur gehad en baie min vensters, meer soos ń vragmotor.

Op die roete word die kinders afgelaai en op die pad na Kinnross, destyds ń grondpad, kruis die spoorlyn en die pad. Die busbestuurder Willie Nel, 53 jaar oud, hou stil by die spoor. Willie, die busbestuurder kry daar ń hartaanval en die bus stol op die spoor. Die aankomende trein probeer sy bes, maar kry nie betyds gestop nie en tref die bus vol. Tien leerlinge sowel as die busbestuurder sterf. Die busbestuurder se eie seun ook een van oorledenes. Die 2 kinders wat so pas afgelaai is, sien alles gebeur.

By Oban is ń gedenksteen opgerig wat gereeld in verre verlede deur oa Landsdiensgroepe skoongehou is. Met die jare het die monument begin verwaardloos, area onveiliger geword en monumentjie het begin kantel.

Met toestemming is daardie monumentjie verskuif na Laerskool Leandra en November 2013 is die Monument weer onthul. Familie van slagoffers sowel as oorlewendes is genooi na die onthulling toe. Een van die teenwoordiges was Mnr Gordon Visser toe 81 jaar oud, hy was die 20 jarige stoker van die ongelukstrein en vertel hoe tragies die dag was en hoe desperaat die trein tevergeefs probeer stilhou het. Selfs na soveel jare is emosies rou oor die gebeure.

Daar is nou ń treinbrug opgerig waar die tragiese gebeure afgespeel het.

ń Gedenkplaat is ook by skool opgerig.

Jaarliks hou die Laerskool ń herdenkingsseremonie en ń kranslegging. Die kinders in die skool bring dan almal blomme wat by die monumentjie neergelê word.

Dankie aan Skoolhoof Mnr Gert van Zyl en Laerskool Leandra vir toegang en inligting en bewaring van geskiedenis.

Dankie Gys Stroh(Monumentjagter) vir fotos en inligting.

Leandra Busramp

Dokument met volledige inligting
Kopiereg voorbehou deur Pieter en Corné Kruger

13 November 1952 – 13 November 2022
70 jaar, bring ons hier.
Ons onthou saam met Oorwinning

13 November 2022

Leandra Busramp na 70 jaar onthou

70 jaar gelede is die gemeenskappe van die Leslie en Eendracht (vandag Leandra), asook die groter Suid-Afrika, geskok met ’n tragiese ongeluk wat 10 skoolkinders en die bestuurder van die skoolbus se lewens geëis het.

Die FAK-Kultuurnetwerke (Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge) en Leandra-gemeenskap onthou die busramp wat vandag nog ’n impak het op die lewens van dié wat hul maats, broers en susters op daardie dag verloor het.

“Wat gebeur het, was tragies, maar ons kyk vorentoe.”

Só sê Marius Purcell, wat tans die skoolhoof aan Laerskool Leandra is. Purcell sê dat dit belangrik is dat die skool die ongeluk moet onthou en dat hy sorg dat die skoolkinders weet wat op 13 November 1952 gebeur het.

Die FAK en Laerskool Leandra het Vrydag 11 November ’n gedenkdiens gehou waarby ’n krans op die monument gelê is ter nagedagtenis van die kinders en die bestuurder wat in die ongeluk gesterf het.

Petrus Schabort van die Vaal-kultuurnetwerk en Corne Kruger, wat in 2007 gesorg het dat die monument van die ongelukstoneel na Leandra Laerskool geskuif word, het in samewerking met die FAK dit goedgedink om vir die 70ste herdenking van die ongeluk Leandra Laerskool te betrek en daarom is die gedenkdiens tydens skooltyd op Vrydag gehou.

Tydens die diens is die tragedie onthou, maar die gemeenskap wil graag die fokus van die hartseer van die tragedie verskuif vanaf die hartseer en rou van die gebeurtenis, na dankbaarheid vir dié wat die ongeluk oorleef het, asook die ongelooflike ondersteuning van die gemeenskap wat die gesinne deur die moeilike tyd gedra het.

Leslie het gereedgemaak vir ’n groot fees wat op 15 November 1953 sou plaasgevind het toe hierdie ramp die dorp getref het. Na skool is die skoolbus deur ‘n trein getref by die spoorwegkruising naby Oban en die feesvieringe is met ’n roudiens vervang.

Jaap Smit, wat daardie dag net voor die ongeluk saam met sy suster Hannetjie van die bus afgeklim het, het die gedenkdiens bygewoon.

Smit het sy waardering vir die diens uitgespreek. Dit is maats van die Smit-kinders wat in die ongeluk oorlede is, kinders wat saam met hulle op skool was, by wie se huise hulle gekuier het.

Barry Müller, kultuurorganiseerder van die FAK in die noordelike provinsies, vertel dat alhoewel die diens somber was, veral met die teenwoordigheid van die oorlewendes van die ongeluk, kyk die gemeenskap na vore, sonder om te vergeet wat hulle uit die verlede geleer het.

Maak 'n opvolg-bydrae